SuperSport Schools Plus

Monnas teen Rusties vandag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-03-21

DIE Hoërskool Monument van Krugersdorp se eerste rugbyspan draf vandag met ‘n jong span teen Hoërskool Rustenburg in die twee spanne se Tuks-reeks wedstryd in Rustenburg uit. Monnas het nie minder as agt spelers in sy begin vyftiental wat vanjaar nog as o.17-spelers tel nie.

Die agttal is die stut Dylan Wood, haker Justin Brandon, slot Len Massyn, agtsteman Henro Liebenberg, losskakel Ivan Smit, heelagter Stian Joubert en die senters Ernst Beumer en Elmar du Plessis.
Boonop is die span se oorblywende Cravenweek-speler van verlede jaar, Rhyno Herbst op die krukkelys. Die slot was in Polokwane een van die Leeus se uitstaande spelers op die hoërskole-toernooi.

Vir Rustenburg sal sy binnesenter, Brenden Esterhuizen ‘n sleutelspeler wees.

Die Hoërskool Klerksdorp sluit sy groepwedstryde op sy tuisveld om 13:30 teen Kemptonpark af. Klerksdorp het ‘n tawwe week agter die rug. Die span het verlede Saterdag teen Monnas 17-46 die knie gebuig, voordat hy Maandag in Bloemfontein teen Grey-kollege ‘n drag slae van 0-85 op die lyf geloop het.

Boonop moet die span nog na more se kragmeting na Kroonstad reis waar hy op die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se jaarlikse sportdag teen Welkom-Gimnasium sake sal uitspook. Klerksdorp het in sy eerste kragmeting van die Tuks-reeks vir Rustenburg 22-20 uitoorlê.

Intussen het EG Jansen van Boksburg sy spiere behoorlik in die reeks gebult. Hy het in die eerste ronde vir Vereeniging Gimnasium 84-14 ‘n les geleer. Die span het Woensdag die verdedigende kampioen HTS Middelburg 38-27 die loef afgesteek.

Die span van Boksburg wat verlede jaar die Beeld-trofee se kampioen vir makroskole was het ‘n voorsprong van 38-0 opgebou met nog net 12 minute se speeltyd in die kragmeting oor. Die Rooi Bulle se afrigter, Alec Strydom het sy manne aangevuur om in die laaste 12 minute terug te veg en 27 punte aan te teken sonder om ‘n enkele punt af te staan.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.