Monnas dra o.15-seweskroon van Noordvaal
Die Hoërskool Monument van Krugersdorp is as eerste o.15-kampioen van die Noordvaal-sewestoernooi gekroon wat by Menlopark in Pretoria beslis is.
Monnas was 21-19 oor Helpmekaar-kollege in ’n naelbyt-eindstryd baas.
Helpmekaar het ná die sirene die bal agter die doellyn verloor wat hulle dié titel sou besorg het.
Monnas het Wonderboom (44-0), Waterkloof (17-7) en die HTS Sasolburg (44-0) in sy drie groepwedstryde verslaan.
Die span het Oos-Moot toe naelskraap met 22-21 in die kwarteindstryd uitgeskakel, maar EG Jansen toe met 43-7 in die halfeindstryd verniel.
Helpmekaar het in sy drie groepwedstryde vir Zwartkop (38-7), Kempton Park (31-14) en Ben Vorster (29-0) geklop.
In sy kwarteindstryd het hy die HTS Middelburg gemaklik met 22-0 kafgedraf.
Die span van Johannesburg moes egter sweet om die gasheer, Menlopark, met 10-7 in die halfeindstryd uit te oorlê.
Menlopark het derde geëindig nadat hy EG Jansen in die uitspeelwedstryd om dié plek met 29-21 getroef het.
Menlopark het boaan sy groep geëindig ondanks die feit dat hy met 12-7 teen die Hoërskool Tuine in hul groepwedstryd vasgeval het.
Menlopark het ’n positiewe punteverskil van 39 punte gehad danksy goeie seges oor Bastion (41-0) en die HTS Middelburg (10-7).
Tuine het in sy eerste kragmeting teen die HTS Middelburg met 19-5 vasgeval en die HTS Middelburg het ook met ’n beter punteverskil (39) as Tuine tot die uitkloprondes van die Beker-afdeling deurgedring.
Die span van Middelburg is tot kampioen van die Plaat-afdeling gekroon deur Oos-Moot in die eindstryd met 31-7 te klop.
Kempton Park het die titel kampioen van die Bowl-afdeling ingeoes met ’n sege van 26-12 oor die Hoërskool Middelburg in die eindstryd, terwyl Zwartkop van Centurion Hans Strijdom in die Skild-eindstryd met 35-0 verniel het.
Al die uitslae:
Groep A: EG Jansen 12, Oos-Moot 7; Middelburg 21, Hans Strijdom 14; Oos-Moot 21, Hans Strijdom 5; EG Jansen 21, Middelburg 12; EG Jansen 21, Hans Strijdom 21; Oos-Moot 26, Middelburg 7.
Groep B: Monument 44, Wonderboom 0; Waterkloof 17, HTS Sasolburg 12; Monument 17, Waterkloof 7; Wonderboom 21, HTS Sasolburg 21; Waterkloof 28, Wonderboom 12; Monument 44, HTS Sasolburg 0.
Groep C: Ben Vorster 14, Kempton Park 7; Helpmekaar 38, Zwartkop 7; Helpmekaar 31, Kempton Park 14; Ben Vorster 17, Zwartkop 12; Helpmekaar 29, Ben Vorster 0; Kempton Park 28, Zwartkop 0.
Groep D: HTS Middelburg 19, Tuine 5; Menlopark 41, Bastion 0; HTS Middelburg 29, Bastion 5; Tuine 12, Menlopark 7; Tuine 22, Bastion 5; Menlopark 10, HTS Middelburg 7.
Kwarteindstryde – Bowl: Middelburg 21, Wonderboom 17; HTS Sasolburg 14, Hans Strijdom 5; Tuine 12, Zwartkop 7; Kempton Park 45, Bastion 0. Beker: EG Jansen 24, Waterkloof 5; Monument 22, Oos-Moot 21; Menlopark 38, Ben Vorster 5; Helpmekaar 22, HTS Middelburg 0.
Halfeindstryde – Beker: Monument 43, EG Jansen 7; Helpmekaar 10, Menlopark 7.
Eindstryde – Skild: Zwartkop 35, Hans Strijdom 0. Bowl: Kempton Park 26, Middelburg 12. Plaat: HTS Middelburg 31, Oos-Moot 7. Beker: Monument 21, Helpmekaar 19.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16