Monnas behoort Grey behoorlik te toets
KIMBERLEY. – Die eerste rugbyspan van Grey-kollege sal dié week behoorlik beproef word. Die span van die Rosestad kom vandag in die hoofwedstryd van die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi wat deur Diamantveld hier aangebied word teen Monument van Krugersdorp te staan.
Dit terwyl hy ook Saterdag gasheer vir die Hoër Jongenskool Paarl speel, wat tans deur School of Rugby as die voorste skolespan in die land gereken word. Die span van die Paarl is nog onoorwonne, maar sal self deeglik vandag deur EG Jansen van Boksburg in die Diamantstad getoets word.
Grey is nog ook onoorwonne vanjaar en indien hy dié status nog het na afloop van dié week is daar ‘n groot moontlikheid dat hy nie vanjaar geklop gaan word nie. Monnas se breier, Hans Coetzee, is die afrigter wat nog die meeste kere ooit Grey tot oorgawe kon dwing. Of hy vanjaar oor die span beskik om dit weer te vermag sal vandag beantwoord word.
Coetzee se laaste sukses teen Grey was egter laas in 1996, wat beteken meeste van die spelers in die span van Bloemfontein was nog nie gebore toe Monnas destyds met 13-8 baas was nie.
Die span van die Rosestad se breier, Wessel du Plessis, het dalk nie al die ervaring waaroor Coetzee beskik nie, maar hy is self ‘n student van die spel.
Dié spel van Grey se slot, Jurie Burger, sal ook ‘n bepalende faktor vir sy span in die kragmeting wees. Hy kom teen twee hoog aangeskrewe slotte in Reinhard Nothnagel en Ruan Vermaak te staan. Hy sal saam met sy slotmaat, George Rossouw, hulle span se fisieke aanslag voorlangs lei. Rossouw se bynaam is nie verniet Bakkies nie.
Indien Grey se agterste driekwarte Jandré de Beer, Dian Gouws en Marnus Boshoff genoeg balbesit en spasie kry kan hulle agterlangs baljaar. Daar is egter nog ‘n faktor wat ‘n invloed op die wedstryd kan hê en dit is dat Diamantveld se spreiligte ongelukkig nou nie oor die kerskrag van ‘n stadion beskik nie. Die wedstryd se afskoptyd van 17:20 beteken dat sig in die tweede helfte nie so goed soos in die eerste gaan wees nie.
Ander wedstryde om nie mis te loop nie is om 10:20 tussen Boishaai en EG Jansen. Die stryd tussen die slotte Ruben de Villiers (Boishaai) en Hendré Stassen (EG Jansen) beloof om een vir die fynproewer te wees. Ondersteuners kan maar so bietjie vroeër ook kom as hulle ordentlike hardlooprugby wil sien, want Noord-Kaap se agterlyn behoort op sy stukke teen Glenwood om 09:10 te wees.
Die wedstryd tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria en Paarl Gimnasium om 16:10 gaan ook ‘n klipharde stryd wees. Gimmies behoort as gunsteling op die veld te draf.




