Menlopark steeds onoorwonne in Tuks-reeks
Die Hoërskool Menlopark se eerstespan spog nog met ‘n onoorwonne rekord in vanjaar se Tuks-reeks, maar vir die tweede agtereenvolgende week moes die span van Pretoria hard werk om ‘n sege te behaal. Die Parkies sal wel tevrede voel met hulle sege van 17-14 oor die Hoërskool Nelspruit in Mbombela.
Menlopark se hoofafrigter, Regardt Botha, is na sy span se sege van 32-28 verlede week oor die Hoërskool Rustenburg sy pos by die eerstespan kwyt. Dean van der Watt het in die week die leisels by hom oorgeneem.
Die Nelspruit Rhinos het teen rustyd ‘n voorsprong van 14-10 geniet. Die tuisspan se SA Skole-stut, Banele Mthenyane, en senter Stefan Smit het albei blink vertonings gelewer.
Die Hoërskool Pietersburg was aan die ontvangkant in Krugersdorp. Monument het die kragmeting met 73-3 gewen na hy reeds teen rustyd ‘n voorsprong van 61-3 opgestapel het.
Monnas se kaptein en SA Skole-haker, Morne Brandon, het ‘n driekuns aan drieë behaal en was ook sy span se uitstaande speler. Ruben Westraadt het ook drie keer die doellyn vir Monnas oorgesteek. Daar is verwag dat die Wit Bulle omgekrap sal wees na hulle verlede week 31-elk gelykop teen Transvalia gespeel het.
Transvalia het self met ‘n oortuigende oorwinning van 68-7 oor HTS Middelburg op laasgenoemde se tuisveld gewys dat hy vanjaar onder die groot honde tel. Die span het die bal hope lug gegee en sy twee vleuels, Uli Wiese en Damian Jordan, het albei dubbelle driedruk-plesier ervaar.
Die losskakel, Zian de Jager, het ook ‘n goeie wedstryd beleef en 21 van sy span se punte aangeteken. Hy het self een keer die doellyn oorgesteek, vyf van sy span se tien drieë verdoel en ook met twee strafdoele geslaag.
Hoërskool Rustenburg se haker, Gustav van Staden, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se gemaklike sege van 50-12 oor Eldoraigne van Pretoria behaal. Die Rusties is gewis ook ‘n span wat vanjaar nie sonder handskoene gepak kan word nie.
Puntemakers:
Menlopark 17 (10) – Drieë: Ruan Oosthuizen, Bernard van der Linde, Nsuku Baloyi. Doelskop: Van der Linde. Hoërskool Nelspruit 14 (14) – Drieë: Banele Mthenyane, Tiaan Kotze. Doelskoppe: Tiaan du Plessis (2).
Monument 73 (61) – Drieë: Morné Brandon (3), Ruben Westraadt (3), Henko van Wyk (2), Douw Scheepers, Izan Esterhuizen, Zihan Coetzee. Doelskoppe: Dean Lategan (9). Hoërskool Pietersburg 3 (3) – Strafdoel: Zander de Ridder.
Transvalia 68 (37) – Drieë: Uli Wiese (2), Damian Jordan (2), Franco Wagner, Johan van Eck, Dewald Strydom, Zian de Jager, Roelof du Plessis, Franco Pienaar. Doelskoppe: De Jager (5). Strafdoele: De Jager (2). HTS Middelburg 7 (0) – Drie: Juandré Odendaal. Doelskop: PJ de Beer.
Hoërskool Rustenburg 50 – Drieë: Gustav van Staden (3), Jacques de Witt (2), De Wet Botha, Estian Heyneke, Estiaan Schönefeldt. Doelskoppe: Heyneke (5). Eldoraigne 12 – Drieë: Barend Bezuidenhout, Divan Immelman. Doelskop: Hilton Olivier.
Ander spanne:
o.16: Menlopark 48, Nelspruit 19; Eldoraigne 17, Rustenburg 12; Monument 69, Pietersburg 3; HTS Middelburg 26, Transvalia 26; Garsfontein 17, Kempton Park 0.
o.15: Menlopark 41, Nelspruit 0; Rustenburg 53, Eldoraigne 0; Monument 38, Pietersburg 14; HTS Middelburg 15, Transvalia 8; Kempton Park 25, Garsfontein 19.
o.14: Menlopark 51, Nelspruit 0; Rustenburg 33, Eldoraigne 21; Monument 70, Pietersburg 0; Transvalia 24, HTS Middelburg 0; Garsfontein 41, Kempton Park 3.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




