Menlopark seëvier in saai stryd
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Menlopark het wel sy derde plek in die Blou Bulle se liga vir makroskole met ’n sege van 27-13 oor Eldoraigne verseker, maar sal nie tevrede wees met die vertoning nie.
Buiten Menlopark se senter Ruan de Beer en stut Rohan Goosen behoort nie een van die Blou Bulle se Cravenweek-spelers wat in die wedstryd in aksie was vandag tevrede oor hul vertonings te voel nie.
Menlopark se twee flanke, Justin Meintjies en Arnold Gerber, kon nie verhinder dat Eldoraigne meer as 15 keer die besit by die afbreekpunte omkeer nie.
Sarel-Marco Smit, Cravenweek-vaskopstut van Eldoraigne, was in die skrums in trurat teen Menlopark se plaasvervanger-voorryman Wian Pienaar.
De Beer het in ’n saai wedstryd vir die hoogtepunt gesorg toe hy naby die einde vanuit sy eie halfgebied deurgenael het vir sy span se derde drie vir die bonuspunt. Die bonuspunt het verseker dat Menlopark bo Centurion op die puntelys eindig.
Goosen het ’n hele paar sterk lopies ingekry. Die wenspan se beste speler op die dag was
Marco Dönges, sy losskakel. Hy het een van sy span se drieë gedruk en 12 punte met sy skopskoen bygevoeg.
Vir Eldoraigne het Wynand Botha, skrumskakel, al sy punte aangeteken om ’n goeie vertoning af te rond.
Jeanré de Klerk, slot, het ook goeie spel gelewer en was een van die dorings in Menlopark se vlees by die afbreekpunte.
Menlopark se dissipline het hulle ook in die steek gelaat. Eldoraigne se Johanco de Villiers, agtsteman, is koelkas toe gestuur.
Die wenspan het toe die geleentheid gehad om die bonuspunt vroeg te verseker, maar eers het Gerber ’n onnodige strafskop op Eldoraigne se doellyn afgestaan, waarna Marko Sauer, agtsteman, weens swak dissipline koelkas toe gestuur is. Die voordeel van ’n ekstra speler was dus van korte duur.
Sauer is vroeër vanjaar teen Waterkloof weens ’n ongeoorloofde duikslag vroeg in die wedstryd van die veld gejaag.
Wayne van der Bank, senter, het ’n stewige vertoning ontsier toe hy weens ’n boorvat ook ’n rooi kaart gekry het.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22