Menlopark en Rustenburg dring deur tot kwarteindronde
Die Hoërskool Menlopark en Hoërskool Rustenburg het gister hul plekke in die kwarteindronde van die Virseker Beeldtrofee vir Makroskole bespreek.
Menlopark het op sy tuisveld in Pretoria vir Kempton Park met 38-17 geklop om ’n afspraak met EG Jansen van Boksburg te maak.
Rustenburg het Eldoraigne met 24-15 geklop om tot die kwarteindronde deur te dring. Hy sal teen die verdedigende kampioen, Garsfontein, in dié ronde te staan kom.
Oos-Moot het gister net-net oor die eerste hekkie in vanjaar se Beeldtrofee vir Grootskole geseil. Die span van Pretoria het in Potchefstroom danksy ’n strafdoel laat in die wedstryd deur sy binnesenter, Edmund Ludick, ’n naelskraapse sege van 22-19 oor Potch Volkskool behaal.
Oos-Moot sal nou in die kwarteindronde van die kompetisie teen die gunsteling en verdedigende kampioen, Helpmekaar-kollege, te staan kom. Helpies het gister vir Parktown Boys’ High met 57-5 kaf gedraf. Die span van die Goudstad is sonder twyfel die beste skolespan in die Leeus-streek.
Ben Vorster van Tzaneen het met rukke en stote gespeel, maar dit was steeds goed genoeg om Transvalia op sy tuisveld in Vanderbijlpark met 27-20 die loef af te steek. Die Vossies se Cravenweek-flank en kaptein, Stefan Engelbrecht, het met sy spel voorgevat.
Dit het Transvalia nie gehelp dat sy losskakel, JP Pieterse, sy skopskoene by die huis vergeet het nie. Pieterse kon nie met een stelskop pale toe slaag nie. Sy algemene spel was egter soos gewoontlik puik.
Ben Vorster sal na Ermelo reis vir die kwarteindronde waar hy vir Ligbron die stryd sal aansê.
Hoërskool Pietersburg en Linden het ook met seges tot die kwarteindronde deurgedring deur onderskeidelik met Pretoria-Noord (44-0) en Secunda (26-12) klaar te speel.
Zeerust het op sy tuisveld ’n klinkende sege van 55-0 oor Pretoria THS in die Middelskole-afdeling behaal. Pretoria THS was verlede jaar die naaswenners van die streekkompetisie.
Zeerust sal teen die verdedigende kampioen, President van Johannesburg, in die kwarteindronde te staan kom. Die span het gewis een van die moeilikste lotings van al die spanne in die kompetisie, maar sal sy tuisveld as bondgenoot in al die wedstryde in die uitkloprondes hê.




