SuperSport Schools Plus

Menlo se Menike en Colene hardloop rekordboeke in

By Charne van der Merwe , in Athletics | News , at 2024-02-08 Tags:

Hoërskool Menlopark se dinamiese duo, Menike van den Berg en Colene Scheepers, het onlangs hul stempel by die Interhuis-atletiekbyeenkoms afgedruk deur jarelange rekords te laat spat.

Op skaars 17 jaar oud maak beide Menike en Colene met trots aanspraak op die 100 m-rekord, ‘n prestasie wat 53 jaar lank onaangeraak gestaan het – sedert Claude van Straaten die merk in 1971 gestel het met ‘n tyd van 11.80 sekondes.

Colene het dit aanvanklik tot 11.78 verbeter, maar Menike het daarna die rekord verder vermorsel met ‘n merkwaardige 11.74 sekondes.

Dit het nie daar opgehou nie, met Colene wat ook die 400 m-rekord, wat sedert 2003 deur Tihanna Vorster gehou is, met ‘n tyd van 56.08 laat spat het. Sy het met ‘n tyd van 56.07 die rekord, wat 12 jaar lank gestaan het, gebreek.

Menike se atletiek-reis strek terug na haar laerskooldae by Laerskool Generaal Hendrik Schoeman, waar sy in gr. 3 rekords begin breek het. Ten spyte van terugslae, weens Covid-19 en ‘n ernstige rugbesering, het Menike ‘n skitterende terugkeer gemaak tydens Menlopark se Interhuis.

Danksy haar ooglopende talent, het sy elke jaar die Suid-Afrikaanse Kampioenskap bywoon en nog elke keer met medaljes teruggekeer.

Sy het ‘n ernstige rugbesering in 2021 oorkom met die ondersteuning van haar ouers, terapeute, fisio’s en afrigters. Menike poog om ten minste vyf keer per week te oefen, aangesien haar doel is om die hele jaar ‘n tyd onder 12 sekondes te handhaaf – met die oog op nasionale erkenning .

Menike is opgewonde vir die jaar wat voorlê en, hoewel daar heelwat trane en sweet met haar loopbaan gepaard gaan, weet sy dat dit op die ou einde die moeite werd is.

Vir Colene is dit niks nuuts om rekords te breek nie. In 2020 het sy die 400 m-rekord by die A-Bond Interhoër verbeter. Verlede jaar het sy Interhoër oorheers en nuwe rekords in die 100 m (12.07), 200 m (24.08) en 400 m (55.04) in die o.17-kategorie opgestel, terwyl sy vanjaar haar indrukwekkende vorm voortgesit het met nog twee Interhuis-rekords.

Colene se atletiek-reis het in gr. 1 begin waar haar natuurlike talent spoedig na vore getree het. Vandag hou sy met trots die titels van die SA en Afrika 400 m-kampioen.

Colene oefen vyf tot ses dae per week en mik om vir Suid-Afrika in die 400 m by die Wêreldbyeenkoms vir Juniors in Peru te verteenwoordig. Boonop is sy voorlopig deel van die 4 x 400 m-seniorspan vir die Wêreldaflosse in Mei, in die Bahamas.

Colene beskryf atletiek as ‘n sport met daaglikse uitdagings. Sy floreer egter wanneer sy haarself tot die uiterste druk, en sy weet dat dit belangrik is dat daar konstante groei moet wees – wat heelwat dissipline verg.

 

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.