Louis Botha troef Sannies
LOUIS BOTHA het Sand du Plessis in sy eerste wedstryd terug in die Vrystaat A1-liga laat les opsê deur hom met 56-6 kaf te draf.
Sannies het al vanjaar die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad geklop, maar Louis Botha se twee drieë vroeg in die kragmeting deur Luke Cyster en Sheldon Fortuin het die verloorspan se moed gebreek.
Die wenspan se Suid-Afrikaanse skole-stut, Ox Nche, het die bal goed gedra en sy span met sy kraglopies oor die voordeellyn gehelp. Agterlangs het Cyster (losskakel), Sharwin Cupido (skrumskakel) en Sheldon Fortuin (vleuel) uitgemunt. Vir Sannies het Juan Dorf-ling as plaasvervanger ’n paar harde duikslae van die afskoppe af uitgevoer.
President Steyn se agterhoede gaan vanjaar nog heelwat spanne hoofbrekens in die Vrystaatse B1-liga gee.
Die Steyners het in sy eerste ligawedstryd vir dié seisoen die Hoërskool Bloemfontein met 55-13 uit die pad gevee.
Die wenspan se agterlyn was deurgaans gevaarlik met veral Chester Sejake en Eugene Stry-dom (senters) wat beïndruk het. Die skrumskakel Janus Sander, vleuel Lee-hane Ontong en heelagter Jean Janse van Rensburg het ook goeie vertonings gelewer.
Vir die Duikers was Ian Alberts (losvoorspeler) woelig. Die stut Barend Alexander het ook mooi by die afbreekpunte skoongemaak en in die skrums goed gevaar.
) St. Andrew het die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort in die ander B1-liga-wedstryd met 18-5 getroef.
Saints het teen rustyd 18-0 voorgeloop nadat hulle in die eerste helfte met die wind van agter gespeel het.
Brandfort het die meeste balbesit en gebiedsvoordeel in die tweede helfte geniet, maar die span se vertoning was futloos.
Saints se losskakel, Dean Tucker, het bresse in die verloorspan se verdediging geslaan. Voorlangs was agtsteman Lawrence Danso en flank Krisjan Diedericks ysters.
Vir Brandfort het die agtsteman Jan Serfontein en skrumskakel Vlam Groenewald moedig probeer.
Puntemakers:
Louis Botha 56 (32) – Drieë: Sheldon Fortuin (2), Luke Cyster (2), Patrick Mbangi (2), Sydwill Mayika, Whaseem Gallant, Sharwin Cupido, Ox Nche. Doelskoppe: Cupido (3). Sand du Plessis 6 (0) – Strafdoele: JB la Cock (2).
St. Andrew 18 (18) – Drieë: Sinclair Marais, Marc Brown. Doelskop: Dean Tucker. Strafdoele: Tucker (2). Brandfort 5 (0) – Drie: Vlam Groenewald.
President Steyn 55 (22) – Drieë: Janus Sander (2), Chester Sejake, Eugene Strydom, Juan Grobbelaar, Lee-hane Ontong, Junior Aggenbach, Danie Truter, Jean Janse van Rensburg. Doelskoppe: Sander (5). Hoërskool Bloemfontein 13 (3) – Drieë: André Erasmus, Ian Albertse. Strafdoel: Tiaan van Heerden.
- Ntini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15