SuperSport Schools Plus

Louis Botha te sterk vir JF

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-26

DIE eerste rugbyspan van Louis Botha gaan moeilik in die Vrystaatse A1-liga gestuit word.

Dit was Saterdag op sy tuisveld duidelik in sy kliniese oorwinning met 57-32 oor die Hoërskool Jim Fouché.

Die tuisspan het van meet af aan sy stem dik gemaak en het vroeg ’n drie onder die pale gaan druk.

JF het egter geantwoord met ’n drie deur sy losskakel, Tiaan Schutte.

Schutte was by verre die besoekers se beste speler en hy het sy agterlyn ’n hele paar keer momentum probeer gee. JF kon egter nie daaruit munt slaan nie en klipharde verdediging van die tuisspan het sy agterlyn dikwels op die agtervoet gehad.

JF het nog ’n drie gaan druk ná ‘n slim steekskoppie deur Schutte.

Dit tuisspan het weer gaan druk en Schutte het twee reuse strafdoele, van agter sy eie halflyn, deur die pale geklits.

Daarna was dit egter eenrigtingverkeer met Louis Botha wat soos ’n rooi stoomroller begin lyk het.

Die rustydtelling van 21-18 het gou vir Louis Botha gerek ná lemoentyd.

Met die skrumskakel, Shirwin Cupido, wat sake soos ’n poppemeester beheer het, het die tuisspan onstuitbaar begin lyk. Sy flank Gopolang Molefe, senter Ali Mgijima en heelagter, Jeandré Christian, het uitgeblink.

Dit was veral Molefe se vaart wat die oog gevang het. Hy het twee drieë gedruk na sterk lopies die verdedigers raadop gehad het. Die balvaardigheid van die tuisspan was vertommend goed en die intensiteit waarmee hulle gespeel het baie hoog.

JF het nooit gaan lê nie en het tot aan die einde vir nog drieë bly veg. Die besoekers was met tye hul eie grootste vyand. Doelloose hangskoppe het slegs balbesit aan Louis Botha se gevaarlike agterlyn terugbesorg.

Vir JF het sy flank Petri Kleynhans en haker, Hanno Spies, goed verdedig.

) Sentraal het weer op die wenpad teen Sand du Plessis gekom, berig Hannes Nienaber. Tralies moes egter sweet om Sannies met 29-24 die onderspit te laat delf/

Die span se flank Ben Kok en slot Fanie du Randt het die noemenswaardigste bydraes tot die sege gelewer.

) In die Vrystaatse B1-afdeling het President Steyn dit duidelik gemaak dat hy vanjaar nie sommer gestuit gaan word nie.

Hy het sy naaste teenstander in die liga, St. Andrew, met 37-0 gekarnuffel.

Die Steyners se vleuel, Lee-hane Ontong het ’n driekuns aan drieë behaal.

Die grondslag vir die sege is egter deur die wenspan se verdediging gelê. Saints kon net nie gapings in Steyners se verdediging vind nie.

Brandfort het te veel skietgoed vir Hoërskool Bloemfontein gehad en 63-7 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span se loskopstut, Hanno Terblanché het met sy kraglopies verdedigers uit die pad geloop. Hy is vir sy goeie spel met ’n driekuns aan drieë beloon.

Die skakelpaar van Zandré Groenewald en Henco de Wet het ook goed vertoon. Groenewald se diens aan De Wet was van hoogstaande gehalte en die losskakel het met sy balverspreiding op die goeie besit voortgebou.

Fichardtpark het sy rieme teen Duineveld met 17-12 vasgeloop. Vir die wenspan het die losskakel Etienne Kruger, flank Adriaan Burger en skrumskakel Marius Ellis puik vertonings in die sege gelewer.

Puntemakers:

Louis Botha 57 (21) – Drieë: Gopolang Molefe (2), Jeandré Christiaan, Ali Mgijima, Shirwin Cupido, Patrick Mbangi, Yamnkelani Ngodwana, Victor Maruping. Doelskoppe: Christiaan (7). Skepdoel: Cupido. Jim Fouché 32 (18) – Drieë: JP Steyn, Hanno Spies, Ian Trollip, Tiaan Schutte. Doelskoppe: Schutte (3). Strafdoele: Schutte (2).

Sentraal 29 (19) – Drieë: SJ Fourie, Kobus Lombard, AJ Page, Brendan Snyman. Doelskoppe: DP de Lange (3). Strafdoel: De Lange. Sand du Plessis 24 (10).

Duineveld 17 (10) – Drieë: Bart Saayman, Marius Ellis. Doelskoppe: Ruan Matthews (2). Strafdoel: Matthews. Fichardtpark 12 (5) – Drieë: Luan Louw, Emile Cloete. Doelskop: Stefan Klopper.

President Steyn 37 – Drieë: Lee-hane Ontong (3), Kobus van Tonder, Fanie Griesel, Niel Smith, Lukas Smith. Doelskop: Niel Smith. St. Andrew 0.

Brandfort 63 – Drieë: Hanno Terblanché (3), Pieter Reynecke (2), Berto Janse van Rensburg, Henco Pieterse, Henco de Wet, Zandré Groenewald. Doelskoppe: De Wet (9). Hoërskool Bloemfontein 7.

Hendrik Potgieter 31 – Drieë: Danie Muller (2), Charl Coetzee, Hans van Schalkwyk, William Casselman. Doelskoppe: Muller (3). Martie du Plessis 5.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.