Louis Botha dra weer JF sewestitel
Jim Fouché moes vir die tweede agtereenvolgende jaar op sy Standard Bank-sewestoernooi met die prys as naaswenner tevrede wees. Louis Botha is weer die kampioen na hy verlede jaar deur Welkom-Gimnasium onttroon is.
Louis Botha het vir JF met 41-27 in die eindstryd verslaan. JF het met die omdraaislag ’n naelskraapse voorsprong van 20-19 geniet.
Die kampioen is verlede jaar deur Welkom-Gimnasium in die halfeindstryd met 24-21 uitgeskakel. Die span van Welkom het daarna vir JF met 38-24 in die eindstryd verslaan. Louis Botha was in 2014 ook die kampioen toe hy in ’n opwindende eindstryd vir Hentie Cilliers met 40-33 verslaan het.
Die kampioen het in sy twee groepwedstryde vir Welkom-Gimnasium se naasbestes (26-5) en Heatherdale (57-0) met gemak geklop. Louis Botha moes toe sy eie naasbestes in die kwarteindronde met 38-19 klop om tot die eindstryd deur te dring.
JF het in sy twee groepwedstryde teen Tsoseletso (45-0) en HTS Sasolburg (38-7) verslaan. Die gasheer het daarna nie te veel probleme ondervind om Goudveld-Hoërskool met 36-12 in die kwarteindronde uit te skakel nie. Gimmies het sy tweede span met 45-14 in sy kwarteindstryd geklop, terwyl HTS Sasolburg so ietwat moes sweet om Sehunela met 22-19 uit te oorlê.
Louis Botha het die bordjies teen Gimmies in die halfeindronde met ’n sege van 17-12 verhang. JF het sy plek in die eindstryd met ’n sege van 48-15 oor HTS Sasolburg bespreek.




