Linden bo met 13 man
Nie eens twee geelkaarte en ’n rooikaart deur die skeidsregter, Renier Vermeulen, kon die Hoërskool Linden verhinder om die Hoërskool Randburg in hul jaarlikse interskole met 19-17 die loef af te steek nie.
Linden se losskakel Kyle Lues was ’n ware generaal, wat sy span tot die sege gelei het. Lues het met sy flinke voetwerk verskeie verdedigers van Randburg na lug laat gryp.
Hy het ook met sy taktiese skopwerk beïndruk en sy span op die voorvoet gehou, sowel as die gebiedsvoordeel beheer.
Linden het ’n hele ruk net 13 spelers op die veld gehad. Die heelagter Brandon Lizamore en die skrumskakel Philmar de Wet is albei kort ná mekaar koelkas toe gestuur.
Met net vier minute oor, die telling op 19-17 en Randburg op die aanval, is die flank Christiaan Botha afgestuur.
Randburg se heelagter Vuyo Shongwe het elke keer dwat hy in besit van die bal was probleme vir Linden besorg.
Shongwe het ook albei sy span se drieë gedruk.
Randburg se een vleuel, George Robinson, kon nie Shongwe se tweede drie doel nie, wat die telling gelykop sou gemaak het.
* Die Oostelike Provinsie se Cravenweek-span was op die jaarlikse Suidelike Bondedag die enigste span wat seges in albei sy wedstryde kon behaal.
Die OP het sy eweknie van die Westelike Provinsie (13-10) en die Boland (47-0) verslaan.
Daar moet egter genoem word dat die Streeptruie sonder enige van hul slotte na die Bondedag gereis het. Die span se afrigter, Hein Kriek, het sy stutte beurtelings op slot ingespan.
“Ek dink nie ’n mens kan te veel in die uitslae lees nie. Ek dink wel die seges was goed vir ons spelers se selfvertroue. Ons weet nou waaraan om te werk by die oefenkamp,” sê Louis Gerber, hoofafrigter van die OP.
Die Suidwestelike Distrikte en WP het met 20-20 gelykop in hul kragmeting gespeel. Die Volstruisboere het die Boland met 46-3 verslaan.
* Die Vrystaatse Cravenweek-span het in die hoofwedstryd van sy jaarlikse Bondedag in Bloemfontein vir Griekwas met 50-17 geklop.
Die gasheer was rustyd met 19-7 voor. Die Vrystaatse senter Julian Jordaan behoort met sy vertoning van die plaasvervangersbank af sy plek vir die Cravenweek in Middelburg, Gauteng, te bespreek.
Voorlangs was die haker JC Janse van Vuuren die Vrystaat se beste speler. Die span se agtsteman Alex Jonker kan ook tevrede met sy vertoning wees.
Vir Griekwas het die heelagter Wilfred Bowers ’n individuele drie vanuit sy eie halfgebied afgerond. Die losskakel Robbie Petzer het ook uitstekend gespeel.
* Die Griffons se Cravenweek-span was op die Vrystaatse Bondedag te sterk vir Griekwa-platteland. Die Perses het ’n wegholsege van 68-0 behaal.
Die Perses se vleuel Nazo Nkala was uitmuntend. Hy het twee van sy span se tien drieë gedruk. Die skrumskakel Jaywinn Juries het nege van die drieë gedoel.
Die span se twee kantmanne, JP Kalp en Henry Searle, het saam met Nkala uitmuntende vertonings opgedis.
* In die Wes-Kaap het Labori se eerste span die skool se agtereenvolgende seges tot 14 opgestoot toe hy New Orleans met 14-0 geklop het.
St. Andrew-kollege was met 42-28 teen Kingswood-kollege baas in die twee spanne se jaarlikse interskole, beter bekend as K-Day.
Die verloorspan was rustyd met 18-8 voor.
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16