Ligbloues en Streeptruie gunsteling vir 2014-kroon
Die Blou Bulle se skole-sewesspan sal vandag die taaiste groep in die jaarlikse interprovinsiale sewes-rugbyreeks moet oorleef indien hy sy aanspraak op dié titel lewend wil hou.
Die vierde jaarlikse interprovinsiale toernooi word vandag en môre deur die Hoërskool Monument in Krugersdorp aangebied. Die Ligbloues is saam met die Leeus, die Griffons en die Pumas in ’n groep geloot.
Die span van die Jakarandastad het spelers soos Andell Loubser, Ruan de Beer, Juandré Michau en Stedman Gans in sy geledere, wat hom een van die aanspraakmakers op dié titel as kampioen maak. Loubser en Arnold Gerber het die Suid-Afrikaanse Skolespan vroeër vanjaar ná afloop van die Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) gehaal.
Die Westelike Provinsie is die vroeë gunsteling om met die titel as kampioen weg te stap. Die span het vier spelers in sy geledere wat vroeër vanjaar in die Suid-Afrikaanse o.18-sewesspan was wat tot Afrika-jeugkampioen gekroon is. Hulle is Ivan Kunz, Edwill van der Merwe, Herschel Jantjes en Grant Williams.
Die Ligbloues het nie hul twee SA o.18-sewesspelers, Eduan Keyter en PJ Toerien, in hul span ingesluit nie. Keyter het hom nie beskikbaar gestel nie.
Vincent Maruping, die Vrystaat se SA Skole-speler, en die spelers van Grey-kollege se eerste span het hulle ook nie verkiesbaar gestel vir die toernooi in Krugersdorp nie. Die Vrystaters behoort egter met Shirwin Cupido aan die spits nie onderskat te word nie.
Buiten die nasionale skolespelers Gerber en Loubser, sal nog vier SA Skole-spelers in die toernooi in aksie wees. Hulle is Edmund Rheeder (Luiperds), JT Jackson (Suidwestelike Distrikte), Jerry Danquah (Grens) en Cobus Wiese (Griekwas).
Die gasheer, die Leeus, het geen spelers wat vroeër vanjaar in die Cravenweek in aksie was in hul span ingesluit nie. Die Valke is die verdedigende kampioen en die ontwykende Martin van Wyk behoort een van hul sleutelspelers te wees.
Die Blou Bulle het in die eerste toernooi in 2011 gewen en die Vrystaat het in 2012 met die titel weggestap.
Bepalings
Vandag: A-veld – 13:00: Valke t. Boland; 13:20: KwaZulu-Natal t. Grens; 13:40: Westelike Provinsie t. Vrystaat; 14:00: Limpopo Blou Bulle t. Griekwas; 14:30: SWD t. Namibië; 14:50: Luiperds t. Oostelike Provinsie; 15:10: Blou Bulle t. Griffons; 15:30: Leeus t. Pumas; 16:30: Valke t. KwaZulu-Natal; 16:50: Boland t. Grens; 17:10: Vrystaat t. Griekwas; 17:30: Westelike Provinsie t. Limpopo Blou Bulle.
B-veld – 13:00: SWD t. Oostelike Provinsie; 13:20: Luiperds t. Namibië; 13:40: Blou Bulle t. Pumas; 14:00: Leeus t. Griffons; 14:30: Valke t. Grens; 14:50: KwaZulu-Natal t. Boland; 15:10: Westelike Provinsie t. Griekwas; 15:30: Limpopo Blou Bulle t. Vrystaat; 16:30: Oostelike Provinsie t. Namibië; 16:50: SWD t. Luiperds; 17:10: Pumas t. Griffons; 17:30: Blou Bulle t. Leeus.
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22
- Gekweste Wit Bulle sal teen Grey wil wys dat hulle steeds kan storm - 2025-03-20