SuperSport Schools Plus

Leeus het so effense Monnas-geur

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-08

Die helfte van die Leeus se o.18-rugbyspan na die Cravenweek vir hoërskole in Stellenbosch bestaan uit spelers van die Hoërskool Monument in Krugersdorp.

Die toernooi vind van 13 tot 18 Julie in die Eikestad plaas. Monnas het 11 spelers in die span, terwyl Jeppe Boys’ High met ’n bydrae van vier spelers die tweede grootste verteenwoordiging in die span het.

Slegs vier spelers van die Rooibontes – die haker Justin Brandon, die stut Ricky Ngwabara, slot Reinhardt Nothnagel en agtsteman Len Massyn – was ook verlede jaar in Middelburg (Mpumalanga) op die Cravenweek in aksie.

Verlede jaar se losskakel, Justin Taylor (Helpmekaar), kon nie weer die span haal nie en sal vir die Akademie-span uitdraf. Sy plek word deur Monument se Xander Kruger ingeneem.

Die Leeus se eerste kragmeting op vanjaar se toernooi is teen KwaZulu-Natal. Die span sal op die Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion in Sasolburg teen die Vrystaat te staan kom. Die Leeus het verlede week met 14-13 teen die Valke vasgeval.

Die Leeus se lostrio van Len Massyn, Hacjivah Dayimani en Henro Liebenberg behoort een van die span se sterk punte in die Eikestad te wees.

Dayimani was verlede jaar op die Akademieweek een van die voorste spelers wat daar te sien was.
Die slotkombinasie van Nothnagel en Ruan Vermaak behoort ook ’n hele paar spanne probleme te besorg. Nothnagel herstel nog van ’n besering, maar sal na verwagting slaggereed vir die toernooi wees.

Die Leeus word deur Florida se Stefan Lourens en King Edward VII se Carl Spilhaus gebrei.

Die Leeus behoort – indien hulle die Piesangboere in hul eerste wedstryd klop – die wenner van die kragmeting tussen die Suidwestelike Distrikte en Oostelike Provinsie in sy tweede kragmeting die stryd aan te sê. Die Volstruisboere en OP was verlede jaar in die hoofwedstryd van dié gesogte toernooi slaags.

Die span is: 

Ivan Smit (Monument), Michael Tambwe (Parktown Boys’ High), Wandisile Simelane (Jeppe), MJ Pelser, Goodman Mkwanazi, Xander Kruger, Franco Tiedt, Len Massyn (almal Monument), Hacjivah Dayimani (Jeppe), Henro Liebenberg, Reinhardt Nothnagel, Ruan Vermaak (almal Monument), Henry Wickens (Jeppe), Justin Brandon (Monument), Ricky Ngwabara (Jeppe). Plaasvervangers: Tiaan van der Merwe (Helpmekaar), JP Swart (Florida), Thomas Meyer (Monument), Senzo Mkhize (King Edward VII), Moses Mthembu (Florida), Elrico Swartz (Florida), Lwazi Monokali (King Edward VII).

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.