SuperSport Schools Plus

Lanties kry sielkundige voorsprong oor Uppies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-04-01

LANDBOUDAL van Jacobsdal se eerste rugbyspan het Saterdag ’n vroeë sielkundige voorsprong oor die Hoërskool Upington in dié twee spanne se vriendskaplike kragmeting op die Hoërskool Vryburg se jaarlikse sportdag met sy oorwinning van 20-16 gekry. 

Die meeste atlete, krieketspelers en swemmers van die skole is nog nie beskikbaar vir die afrigters van die rugbyspanne om in te span nie, maar dié oorwinning sal die Lanties se selfvertroue gewis ’n hupstoot gee vir die twee spanne se ligawedstryd later vanjaar. 

Lanties het rustyd met ’n enkele punt met 10-9 voorgeloop. Die span se held in die sege was sy jong slot, Tewis Britz, wat puik in sy eerste wedstryd vir die skool se eerste span vertoon het. 

Hy staan 1,99 m in sy sokkies en het langs sy broer Adriaan Britz in die skrum gesak. Adriaan is ’n allemintige 2,06 m lank. 

Agterlangs het die buitesenter, Morris Rossouw, en losskakel, Louwtjie Steenkamp, blink vertonings gelewer.

Jasper Wiese, Cravenweek-agtsteman van Uppies, het sy span se enigste drie gedruk.

Landboudal het vroeër vanjaar teen Sentraal in Bloemfontein met 8-14 die knie gebuig.

Jim Fouché het Diamantveld Maandag in ’n voorwedstryd vir die Varsitybeker-kragmeting tussen die Shimlas en Tukkies op Shimlapark met 32-17 geklop. 

Vir JF was die heelagter Franco Spies, flank Hanno Spies en vaskopstut Eduan Wepener die uitblinkers. 

Hartswater het op Vryburg se sportdag ’n oorwinning van 14-0 oor die Hoërskool Postmasburg behaal en so sy seisoen op ’n wennoot afgeskop. 

Altus van Zyl, die span se binnesenter, is as speler van die wedstryd aangewys. 

In die hoofwedstryd van die rugbydag het Vryburg die Hoërskool Vaalharts met 25-0 kafgedraf. Die Hoërskool Kalahari van Kuruman het ook vroeër dié dag Landboudal se naasbestes met 12-8 geklop. 

Hentie Cilliers het Vrydag in Bloemfontein sterk teenstand van Fichardtpark gekry, maar steeds daarin geslaag om met 31-19 as oorwinnaars uit die stryd te tree. 

Die telling was met agt minute se spel oor nog 19-elk.

By Hannes Nienaber

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.