SuperSport Schools Plus

Landboudal behaal seldsame sege in Upington

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-07-29

Landboudal van Jacobsdal se eerste rugbyspan het ‘n seldsame sege in Upington behaal toe hy Hoërskool Upington 29-17 getroef het. Lanties het met die sege ook die vroeë gunstelinge geword om Griekwas in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) te verteenwoordig. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Die span van Jacobsdal kom Saterdag teen Hoërskool Kalahari van Kuruman te staan. Dié wenner van die kragmeting sal waarskynlik Griekwas in die Irawa-liga verteenwoordig. Lanties is egter nog onoorwonne en Kalahari het onlangs teen Duineveld die knie gebuig. Die Leeus van Kuruman kan egter nog as Griekwa-kampioen gekroon word. Dié Griekwa-liga het nie ‘n eindstryd nie.
Die halfeindstryde van die Kovsiestreek-kompetisie wat deur Griekwas aangebied word sal as voorwedstryde op GWK-park op 24 Augustus vir die Curriebeker-wedstryd tussen Griekwas en Westelike Provinsie gespeel word.
Noord-Kaap sal Griekwas in die Shimla-liga (vir mediumskole) verteenwoordig. Northerns is ook die verdedigende kampioen.
Noord-Kaap het Saterdag op sy tuisveld Pirates vir HTS Daniël Pienaar van Uitenhage 40-24 met die kous oor die kop huis toe gestuur. Louis Botha is die vroeë gunsteling om die Vrystaat in dié liga te verteenwoordig. Die Griffons se Voortrekker van Bethlehem en Hentie Cilliers van Virginia is die gunstelinge van die Perses om tot die kompetisie deur te dring.
In die Irawa-liga behoort Wilgerivier van Frankfort en Bothaville die Griffons se verteenwoordigers te wees. Hulle is die gunstelinge om te wen in die Griffons se platteland-liga halfeindstryde. In die Vrystaat is Zastron, President Steyn, Brandfort en St. Andrews nog in met ‘n kans om tot die Irawa-liga deur te dring. Zastron en Steyners is egter die gunstelinge.
Vanjaar sal daar ook ‘n nuwe liga tot die kompetisie bygevoeg word. Van die heel kleiner skole sal in die Colt-liga geleentheid kry om as kampioen van die sentrale streek gekroon te word. Bultfontein, Sandveld en Kestell is die vroeë gunstelinge om vir die Griffons in die liga te kwalifiseer. Die Vrystaatse deelnemer sal die kampioen van die Vrystaatse B2-liga wees. Die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter, Martie du Plessis en Koffiefontein is die spanne wat hulle stemme dik in die liga maak.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.