SuperSport Schools Plus

Kwotaskok in skole

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-07-27

Minstens die helfte van die Suid-Afrikaanse skolespan móét vanjaar uit swart spelers bestaan en dié syfer sal aanhou toeneem.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ­(Saru) het glo verlede week opdrag gegee dat minstens 14 van die 28 spelers in dié span swart, bruin of Indiër moet wees. Dít net enkele dae voor ’n finale ronde van proewe gister in Kempton Park gehou is.

Volgens ingeligtes is dit die eerste keer dat dié kwota amptelik op skolevlak afgedwing word.

Keurders het gistermiddag vergader om die skolespan te kies vir ’n reeks “toetse” teen Frankryk, Engeland en Wallis.

Rapport verneem betroubaar dat die groep van 28 wat ná die vergadering aan Saru voorgelê is vir goedkeuring en môre aangekondig sal word, wel 50% swart is.

Dit kom nadat Mervyn Green, Saru se hoofbestuurder van ontwikkeling, verlede Donderdag tydens die Cravenweek in Middelburg die keurders ingelig het dat die helfte van die skolespan swart móét wees.

Huidige en voormalige skolekeurders het bevestig dit is ’n wending en dat ’n raskwota nog nooit so rigied neergelê is nie.

Dié eis het glo ook beteken dat die groep wat gekies is om aan gister se proewe deel te neem inderhaas van 50 tot 55 spelers vergroot is, aangesien dit aanvanklik nie aan Saru se transformasievoorskrifte voldoen het nie.

Die afgelope ses jaar het die Suid-Afrikaanse skolespan nog net een keer “bloot toevallig” uit minstens 50% swart spelers bestaan.

Dit was in 2009 toe 11 uit die groep van 22 swart was. Onder dié spelers was die Springbok-losvoorspeler Siya Kolisi, die Stormers se Scarra Ntubeni en Nizaam Carr en die Bulls-haker ­Bongi Mbonambi.

Green het Rapport se navrae verwys na Andy Colquhoun, Saru se mediabestuurder. Colquhoun het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, het vroeër die afgelope week volgehou die keurproses is “lank en weldeurdag”.

“Ons identifiseer die skolegroep reeds by die nasionale o.16-week en hoewel daar mettertyd enkele spelers bykom en wegval, bly die kern van die groep dieselfde,” het Roux gesê.

“Die dae van ’n flash in the pan-speler van wie ons nie voorheen bewus was nie, maar wat in die Cravenweek beïndruk en dan gekies word, is verby.”

Die jongste kwota-herrie kom enkele weke nadat die land se rugby­base deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) geroskam is oor die “gebrek aan transformasie” in die Springbokspan.

Oregan Hoskins, die Saru-president, het gevolglik aan die Bokafrigter, Heyneke Meyer, opdrag gegee om meer swart spelers vir verlede maand se toets teen Skotland te kies.

Ondanks die Saskok-kritiek gaan dit egter baie goed met rugbytransformasie. Selfs die departement van sport stem saam.

Rapport kan vandag ook onthul dat ’n studie wat deur die departement van sport onderneem is, bevind het Saru vaar die beste van al die groot sportfederasies – rugby, krieket, sokker, netbal en atletiek – wat transformasie betref.

Saru se “slaagsyfer” van 71% op ’n sogenaamde “transformasietelkaart” was glo hoër as enige van die ander federasies s’n.

Saru werk, ongeag hul relatiewe sukses gemeet aan ander federasies, steeds aan ’n plan om hul tekortkominge reg te stel.

Dit sal einde volgende maand aan die departement voorgelê word.

Die regeringstudie, onder leiding van die sportadministrateur Willie Basson, is intussen uitgebrei tot 12 ander sportsoorte.

Volgens Basson fokus dié studie op die demografiese profiel van Suid-Afrikaners van 18 jaar en jonger om die sukses van sporttransformasie te meet.

“Meer as 80% van kinders in dié groep is etnies swart en die res is bruin, Indiër en wit. Dit word egter nie naastenby in die samestelling van ons nasionale spanne weerspieël nie,” het Basson aan Rapport gesê.

“Die probleem moet op eers op skole- en klubvlak gepak word sodat ons oor 10 of 20 jaar van nou af nie meer op die minderheidsgroepe in ons nasionale spanne staatmaak nie.

“Die plan is om die persentasie geleidelik te laat toeneem op dié vlakke totdat dit uiteindelik in ons na­sionale spanne weerspieël word.”

Volgens Basson sal die studie binne die volgende paar weke aan die regering oorhandig word.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.