KwaZulu-Natal wil glorie van 1990 wil herleef
KwaZulu-Natal se o.18-rugbyspan sal hoop dat die geskiedenis hom vanjaar hier op die 53ste Cravenweek vir hoërskole op die velde van Kearsney College sal herhaal.
Die gasheer kon laas toe hy die toernooi aangebied het in 1990 daarin slaag om in die hoofwedstryd van die toernooi in aksie te wees. Die Piesangboere was ook in die hoofwedstryd met 18-8 oor Noord-Transvaal baas.
Die span het daardie jaar toekomstige Springbokke soos die flank Wayne Fyvie, skrumskakel Hentie Martens en stut Ettienne Fynn in sy geledere gehad. Fynn het ook geskiedenis daardie jaar gemaak deur die eerste speler van kleur te word om vir die SA Skole-span gekies te word.
Die gasheer sal wel sy sokkies moes optrek indien hy die geskiedenis van hulp wil wees om homself te herhaal. Die span het op die Noordvaal Bondedag met 10-38 teen die Blou Bulle die knie gebuig. Hy sal ook eers verby die volslae gunsteling, die Westelike Provinsie, moet kom.
Die Cravenweek van 1990 was ’n ryp oesjaar vir Springbok-rugby. Nie minder as 14 spelers wat daardie jaar op die toernooi in aksie was, het later die Groen-en-Goud oor hul kop getrek. Drie van hulle Martens, Mark Andrews (Grens) en Schutte Bekker (Laeveld) het hulle onderskeie spanne in die Hawestad aangevoer.
Die gewese Protea-krieketspeler Gerhardus Liebenberg het boonop Griekwas vanaf losskakel gelei. Nog ’n Protea Nicky Bojé was ook die Vrystaat se generaal op die week.
Die ander Springbokke wat in 1990 op die toernooi in aksie was is Os du Randt (Noordoos-Kaap), Braam Els (Noord-Vrystaat), Rassie Erasmus, Russell Bennett (albei OP), James Dalton (Transvaal), Ollie le Roux, Werner Swanepoel, Franco Smith (almal Vrystaat) en Justin Swart (WP).
Nog twee spelers Dion O’Cuinneagain (WP) en Matt Proudfoot (Wes-Transvaal) het later onderskeidelik internasionale rugby vir Ierland en Skotland gespeel. Proudfoot is tans een van die Springbokke se hulpafrigters.
Du Randt se oudste seun, Thian, sal vanjaar een van die Vrystaat se hakers op die toernooi wees. Piet Krause wat in 1990 vir Vaaldriehoek op die toernooi in aksie was se seun Phillip sal langs die kant van die skrum vir die Blou Bulle sak. Krause sr. het ook in 1991 die nasionale skolespan gehaal, terwyl sy seun reeds verlede jaar in die SA Skole A-span ingesluit was.
Nog ’n kantman van die Ligbloues Ryno Pieterse is die halfbroer van die Suid-Afrikaanse sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld.
Die Westelike Provinsie se vleuel, Muller du Plessis, se pa Charl word in die Vrystaat steeds as een van die beste skoleheelagters nog in Suid-Afrika geloof. Du Plessis sr. het in 1978 die SA Skole-span verteenwoordig en ook later vir Transvaal se seniorspan gespeel. Muller se broer, JP du Plessis, het ook die nasionale skolespan in 2009 gehaal en ook eersterangse rugby vir onder meer Vrystaat en die OP Kings gespeel.




