SuperSport Schools News

Kwaggas op ‘n gallop en Paarl Gim bult spiere

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-04-12

Hoërskool Outeniqua se losskakel, Manie Libbok, was gister in Pretoria teen Menlopark dalk meer Springbok as Kwagga in sy span se sege van 44-20 oor die gasheer van die Noord/Suid-toernooi.

Die Kwaggas het teen rustyd reeds met 20-6 voorgeloop nadat Libbok 15 van sy span se punte in dié helfte aangeteken het. Hy het in die tweede helfte twee doelskoppe by dié totaal gevoeg. Hy het op die aanval heelwat vrae aan Menlopark se verdediging gevra. Sy stelskopwerk was van hoogstaande gehalte en die twee stelskoppe wat hy misgeskop het, was een van die kantlyn af en die ander moes hy met ’n skepdoel aandurf nadat hy nie betyds die skopkelkie ontvang het nie.

Menlopark was slegs twee keer in die eerste helfte in Outeniqua se kwartgebied en albei kere het sy losskakel, Andell Loubser, ’n strafdoel behaal.

Die span van Pretoria het egter tam voorgekom en sy drie wedstryde oor die Paasnaweek in Kearsney College se toernooi, het gewis baie fut uit hom geneem.

Die Kwaggas se senter JP Duvenhage en vaskopstut, Roux Swart, het ook blink vertonings opgedis.

Paarl-Gimnasium het die Wes-Kaapse skole se oorheersing in die skoolvakansie in dié toernooi voortgesit. Gimmies het Woensdag die gasheer met 29-10 verslaan, voordat hulle ook Garsfontein met 48-24 uit die pad gevee het.
Die span van die Paarl se kaptein en slot, Ernst van Rhyn, het uitstekend in die lynstaan vertoon en ook in die los gewoel. Garsies se lynstaanwerk was een rede vir hul ondergang. Die wenspan se flank Johan Visser het self gewoel en ook twee keer agter die doellyn gaan draai.

Vir Garsfontein was daar nie ’n beter speler op die veld as sy vleuel Duncan Naudé nie. Hy het elke keer verby die eerste verdediger geglip en met sy stelskopwerk was daar ook nie veel fout te vind nie.

Waterkloof het hom teen die gekombineerde vyftiental van Nieu-Suid-Wallis van Australië met 26-21 vasgeloop. Waterkloof moes sonder sy losskakel, Willie Ludick, klaarkom. Sy agtsteman, Dylan Robinson, en vleuel Runan Venter het gewys dat hulle sterk aanspraakmakers op die Blou Bulle se Cravenweek-span is.

Die span van Australië word saamgestel uit openbare skole in die Nieu-Suid-Wallis streek. Dié span het op die eerste dag met 55-8 teen Grey-kollege se uitnodigingspan vasgeval. Grey se span het meestal uit spelers uit sy tweede span bestaan.

Die Hoërskool Middelburg het met 31-31 gelykop teen Grey-kollege in ’n opwindende wedstryd gespeel. Middelburg se losskakel, Chris Hanekom, en die senter Siyabonga Khaliswayo was Middelburg se sterre.

Puntemakers: 

Hoërskool Outeniqua 44 (20): Drieë: Manie Libbok, André Coetzee, Da­mian Boneparte, Roux Swart, Pieter Steenkamp, Bradley Kiewietz. Doelskoppe: Libbok (4). Strafdoele: Libbok (2). Menlopark 20 (6): Drieë: Stean Pienaar, Gerald Lowe. Doelskoppe: Andell Loubser (2). Strafdoele: Loubser (2).

 Paarl Gimnasium 48 (17) – Drieë: Johan Visser (2), MJ Hayes, Johan Grobbelaar, Max Thalwitzer, Muller Uys, Wian van Zyl. Doelskoppe: George Lourens (5). Strafdoel: Lourens. Garsfontein 24 (17) – Drieë: Abner van Reenen, Duncan Naudé, Shakeel Fredericks. Doelskoppe: Naudé (3). Strafdoel: Naudé. 

CHS Australië 26 (14) – Drieë: Tametia Lorax, Harry Johnson-Holmes, Storm Pasfield, Dylan Peppernell. Doelskoppe: Jayden Wright (3). Waterkloof 21 (14) – Drieë: Runan Venter (2), Dylan Robinson. Doelskoppe: Duan Günther (3). 

Hoërskool Middelburg 31 (10) – Drieë: Siyabonga Khaliswayo (3), Ruben Roodt. Doelskoppe: Chris Hanekom (4) Strafdoel: Hanekom. Cherries 31 (7) – Drieë: Rewan Kruger, Daniël Rust, Johan van der Walt, Ray Fincham, JD Steyn. Doelskoppe: Edward Janse van Vuuren (3). 

Paarl Gimnasium 29 (3) – Drieë: André Booysen, Johan Visser, Max Thalwitzer, Taigh Schoor. Doelskoppe: George Lourens (3). Strafdoel: Lourens. Menlopark 10 (10) – Drie: Stean Pienaar. Doelskop: Andell Loubser. Strafdoel: Loubser. 

Outeniqua 27 – Drieë: JP Duvenhage (2), Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (3). Strafdoele: Libbok (2). Garsfontein 10 – Drie: Embrose Papier. Doelskop: JP Wegner. Strafdoel: Wegner.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.