Kroonstad vir die agtste jaar in ‘n ry in Rooi getooi
Kroonstad is vir die agtste agtereenvolgende jaar rooi. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het met sy sege van 36-3 Saterdag sy agtste agtereenvolgende sege oor Hoërskool Kroonstad op laasgenoemde se tuisveld behaal.
Rooiskool het in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel om Bloues tot oorgawe te dwing. Die span se agtsteman, Johan Steyn, het veral met sy spel die leiding geneem.
Blouskool het ondanks die hoë getal in die krediet kolom heelwat om oor te glimlag. Met die omdraaislag kon Rooiskool slegs ‘n voorsprong van 5-3 geniet.
Die wenspan se slot Michiel Bosman en flank Stephan du Plessis het voorlangs saam met Steyn goeie werk verrig. Du Plessis het die veld vol gespeel en ook op die verdediging uitgeblink. Bosman het soos gewoontlik meters ver veld met sy kraglopies gewen.
Agterlangs het die losskakel, Franco Froneman, die agterlyn seepglad weggesit. Die senter Louis Steyn het ook meer gapings in Blouskool se verdediging in die tweede helfte begin vind.
Blouskool se skakelpaar, Theo Roux en Henro de Vos, het agterlangs moedig probeer. Voorlangs het die kaptein en agtsteman, Jan-Louis du Plessis, en die flank Hendré Bolton goeie spel gelewer.
Voortrekker van Bethlehem het ‘n belangrike sege van 24-7 oor Goudveld-Hoërskool behaal. Niemand was beter op die dag as Trekkers se skrumskakel, Etienne Becker, nie.
Vir Gouties het sy heelagter, Wian van Staden, met sy aanvallende spel vanuit die laaste vesting vir die Trekkers ‘n paar keer probleme besorg. Die agtsteman, Pietman Kotze, het wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp het meters ver veld vir die verloorspan gewen. Gouties het met die omdraaislag met 7-5 voorgeloop, maar Trekkers het in die laaste kwart van die wedstryd drie vinnige drieë gedruk om die sege te beklink.
Die buitesenter, Donovan Bouwer, linkervleuel JJ Lombaard en flank Sakkie Mollentze het ook goed vir die wenspan vertoon. Lombaard is vir sy goeie spel met twee drieë beloon.
Witteberg het danksy ‘n beter tweede helfte daarin geslaag om vir Hentie Cilliers van Virginia met 29-22 die loef af te steek. Die span se losskakel, Tiaan Schoonraad, het met sy skopskoen weer ‘n sleutelrol vertolk.
Die span van Virginia het met lemoentyd ‘n voorsprong van 17-10 opgebou. Hy het kort daarna die voorsprong na 22-10 in die tweede helfte vergroot, maar Wittes het nooit gaan lê nie.
Vir Henties het sy losskakel, Dominic Smit, flank Gift Dlamini en jong slot Scholtz Jordaan met hulle spel beindruk.
Welkom-Gimnasium se sterk vleuel, Tristan Rothman, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se weghol-sege van 78-5 oor HTS Welkom behaal. Gimmies het 12 drieë in die wedstryd ingeryg. Die span se losskakel, Luan James, het nege daarvan verdoel.
Puntemakers:
AHS Kroonstad 36 (5): Drieë: Harold Hills, Armin Louw, Erik de Jager, Gerald Ekron, Marinus Aucamp, Zak van Niekerk. Doelskoppe: Corné Cooper (3). Hoërskool Kroonstad 3 (3): Strafdoel: Henro de Vos.
Welkom-Gimnasium 78: Drieë: Tristan Rothman (3), SJ Malherbe (2), Fanie Vermaak (2), Lubabalo Mtyesi, Ezrick Alexander, Benji Muller, Richman Gora, Byron Ferreira. Doelskoppe: Luan James (9). HTS Welkom 5.
Voortrekker 24: Drieë: JJ Lombaard (2), Eben Claassen (2). Doelskoppe: Etienne Becker (2). Goudveld-Hoërskool 7:.Drie: David Eyssen. Doelskop: Ruben Abrahams.
Witteberg 29 (10): Drieë: Pieter Jordaan, Cronjé Meiring, Tiaan Schoonraad, Darryl Wilson. Doelskoppe: Schoonraad (3). Strafdoel: Schoonraad. Hentie Cilliers 22 (17): Drieë: Dominic Smit, Delano Smit, Morné Mkwayi, Thebe Letsholo. Doelskop: Dominic Smit.




