SuperSport Schools Plus

Klofies voor kruispad in Virsekerbeker

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-05-31

VirsekerBekerlogoDie Hoërskool Waterkloof is voor ‘n kruispad oor sy verdere deelname in die Virsekerbeker (voorheen Virseker Beeldtrofee).

Klofies is glo ‘n ultimatum deur die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) gestel om sy ligawedstryde teen die Hoërskool Garsfontein voor 30 Junie na te kom of die skool sal nie verder aan vanjaar se Virsekerbeker (voorheen Beeldtrofee) kan deelneem nie.

“Ek het ons bekommernisse met die voorsitter van die Blou Bulle se Skolerugby-vereniging (BBSRV) bespreek. Ons is besig om ‘n kompetisie totaal en al ‘n klug van te maak,” het Leon Bantjes, skoolhoof van Garsfontein, gesê.

Die BBSRV het ook glo klagtes van skole wat aan die B-afdeling van sy Makroskole-liga deelneem, ontvang oor die wat hulle sien as ‘n manipulasie van die stelsel. Twee skole wat veral ontevrede behoort te voel in dié afdeling sal Centurion en Eldoraigne wees.

Waterkloof se beheerraad het reeds vroeg in die jaar besluit dat hy nie sy rugbybepaling teen Garsfontein sal nakom nie. Die besluit is toe reeds in ‘n brief aan Garsfontein se beheerraad oorgedra. Die twee skole se spanne moes op 20 Mei kragte gemeet het in ‘n wedstryd wat moontlik sou bepaal het wie die Blou Bulle se voorste Makroskool is.

Klofies se bemarkingsbestuurder, Yolande de Nyscchen, het by navraag gesê dat die skool se standpunt sedert sy brief aan Garsfontein se beheerraad nie verander het nie.

“Die Beheerliggaam het besluit dat Hoërskool Waterkloof voortaan nie meer teen Hoërskool Garsfontein rugby sal speel nie. Die aanloop tot hierdie besluit het ‘n lang geskiedenis. Hoërskool Waterkloof het homself in die verlede aan die onaanvaarbare en onetiese praktyk om spelers van ander skole te “koop” en af te rokkel, skuldig gemaak. Ons het hierdie praktyk in 2011 gestaak en weier voortaan om enigsins aan soortgelyke praktyke deel te neem, of om dit ooglopend goed te keur deur teen skole wat sulke praktyke beoefen, deel te neem,” het die brief van Klofies se beheerliggaam aan Garsfontein gelei. Die brief is ook op die skool se D6 Communicator aan sy ouers gedeel.

Waterkloof se rugby beleidsdokument van 2016 wat op die D6 Communicator beskikbaar is stel dat die skool “beoog om sy grootste werwingspogings met graad ses en sewe-leerders te doen. Ons voorsien dat sleutelposisies tot ‘n maksimum van graad 11 gewerf kan word indien nodig. Ons beoog om geen speler in graad 12 vir die skool te werf nie.”

Hoewel Garsfontein die afgelope twee jaar die kampioen van die oudste skolerugbykompetisie in die land was, sou Klofies se eerstespan as die gunsteling op die veld gedraf het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het in 2014 aan sy “ligawedstryde” teen Garsfontein en Menlopark onttrek. Affies het wel net aan die liga op vriendskaplike basis deelgeneem. Affies se skoolhoof, Dr. Pierre Edwards, het destyds gesê die besluit is geneem op die skool se beleid om nie teen skole te speel wat van sogenaamde post-matrieks of huursoldate gebruik maak nie.

“Ons groot probleem is die feit dat o.19-spelers van die hele land (deur sekere skole) bymekaar gemaak word. Skole vanuit die Kaap waarmee ons ’n goeie verhouding het, is woedend oor van hul spelers wat afgerokkel is,” het Edwards destyds gesê. Garsfontein het egter geen post-matrieks in hulle span gehad nie.

Helpmekaar-kollege in Johannesburg dring vanjaar tot die uitspeelrondes van die Virsekerbeker as die Goue Leeus se naaswenner deur. Dié skool dring sedert 2014 ook direk sonder tot die streekkompetisie se uitspeelrondes deur na die ander skole in die Leeus se Grootskole-liga nie meer bereid was om teen hom te speel nie. Die rede was dat die skole gevoel het dat hulle nie meer met Helpies kan kompeteer nie.

Transvalia van Vanderbijlpark sit vanjaar in dieselfde bootjie na die ander grootskole in die Valke-streek nie kans gesien het om teen hom om dieselfde redes te speel nie. Transvalia dring ook vanjaar as die Valke se naaswenner tot die Virsekerbeker deur.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.