Klofies en Menlopark slaan slag vir Noorde in Pretoria
Waterkloof se eerste rugbyspan het Saterdag in die hoofwedstryd van die eerste dag van die Barloworld Menlyn Noord/Suid-toernooi vir Stellenberg van ‘n oorwinning beroof. Klofies het die kragmeting in die doodsnikke danksy ‘n drie deur sy vleuel PJ Krugell met 36-33 gewen. Dit was Krugell se tiende drie in vier wedstryde die seisoen.
Klofies het twee onverdoelde driee in die laaste twee minute gedruk om die sege te beklink. Toe Stellenberg se plaasvervanger-losskakel, Ruben de Bod, afskop na Andre Dippenaar se drie het die telbord 33-31 in sy span se guns gelees en was daar net meer as 30 sekondes se speeltyd in die wedstryd oor.
Klofies se losskakel, Ulrich Maritz, het amper soos ‘n hekkiesloper tussen twee verdedigers deurgeglip. Hy het ver genael voordat hy die heelagter, Gideon Peters, in besit gestel het. Peters het Krugell vir die wendrie weggesit.
Stellenberg se haastige vleuel Angelo Davids het minder as vyf minute vantevore wat geblyk het na die finale spyker in die doodskis geslaan. Davids het met Waterkloof op die aanval die bal onderskep en meer as 70 meter vir sy tweede drie deurgenael. Klofies het egter ander planne gehad.
Stellenberg se heelagter, Ryan Brown, het die mooiste drie van die dag gedruk toe kort na rustyd ‘n teenaanval vanuit sy eie kwartgebied geloots het. Stellenberg het vir die grootste gedeelte van die wedstryd voorgeloop. Die span se slot Janko Swanepoel, haker Josh Muller en agtsteman Andre Hanekom het uitmuntend vertoon.
Waterkloof se losskakel, Ulrich Maritz, het sy agterlyn seepglad weggesit en ook ‘n hele paar keer bresse in die verdediging geslaan. Wanneer Kloof se agterhoede aan die gang gekom het, het hulle gevaarlik gelyk. Die beste speler vir Kloof was sonder twyfel sy skrumskakel, Giovan Snyman, wat ‘n hele paar keer verby die verdediging om die skrums en losgemale geglip het.
Stellenberg se buitesenter, Corne van Romburgh, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy rotsvaste verdediging in die wedstryde.
Menlopark se losskakel, Werner Nel, was aan die spits van sy span se oortuigende oorwinning van 49-30 oor Outeniqua van George. Nel het twee keer met skerp breekslae die Kwaggas se doellyn oorgesteek.
Die span van die Jakarandastad het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 21-18 geniet. Nel se skakelmaat, Bernard van der Linde het self ‘n skitterende vertoning opgedis. Hy het ook die stelskopwerk by Nel oorgeneem en met vyf doelskoppe geslaag.
Menlopark se agtsteman, Divan Venter, kan ook vandag meer as tevrede met sy vertoning voel. Hy het die bal goed gedra en het ook goed verdedig. Hy het goeie ondersteuning van die flank Wikus Janse van Rensburg ontvang.
Vir Outeniqua was sy agtsteman, Andreas Breytenbach, uitstaande. Hy is boonop met twee driee beloon. Die losskakel, James Mollentze, kan ook sy kop omhoog hou.
Puntemakers:
Waterkloof 36 (14) – Driee: Ruben Veldsman, Sean du Plooy, Ewan Visser, Gideon Peters, Andre Dippenaar, PJ Krugell. Doelskoppe: Ulrich Maritz (3). Stellenberg 33 (19) – Driee: Angelo Davids (2), Ryno Marais, Ryan Brown, Andre Hanekom. Doelskwoppe: Brown (3), Ruben de Bod.
Menlopark 49 (21) – Driee: Werner Nel (2), Dirk Thuynsma, Divan Venter, Pierre Joubert, Wikus Janse van Rensburg, Justin Sadie. Doelskoppe: Bernard van der Linde (5), Nel (2). Outeniqua 30 (18) – Driee: Andreas Breytenbach (2), Emileo Cloete, James Mollentze. Doelskoppe: Mollentze (2). Strafdoele: Mollentze (2).
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




