SuperSport Schools Plus

Klerksdorp onttroon Transvalia as Beeltrofee Groot-skole kampioen

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-25

IMG 0514Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Klerksdorp het Transvalia Saterdag met 27-15 as Beeldtrofee-kampioen vir groot skole onttroon.

Die Luiperds het in drie van die vyf afdelings vir eerste ­spanne koning gekraai. Die Hoërskool Vryburg en Schweizer-Reneke het in onderskeidelik die afdelings vir medium en klein skole koning gekraai.

Valia het eerste bloed geruik toe Wernich Human, sy heelagter, met ’n strafdoel vanuit sy eie halfgebied geslaag het.

Die tuisspan se man wat die pad doellyn toe ken, die vleuel Riaan Scholtz, het die enigste drie in die eerste helfte gedruk nadat ’n perfekte voetaangee van die senter Danie von Wielligh vir hom reg gewip het.

Transvalia het nie meer na dieselfde span gelyk nadat

Sean Ritter, sy losskakel, weens ’n besering van die veld is nie.

Klerksdorp se agterste driehoek was uitmuntend. Des Waldeck, heelagter, was rotsvas en het ook ’n skitterende lopie vanuit sy eie kwartgebied begin wat amper op ’n drie vir Paul Maluleke, regtervleuel, uitgeloop het. Maluleke se verdediging was puik. Hy het ’n hele paar spelers grond toe gebring.

Scholtz het twee keer gaan druk, maar het ’n hele paar keer amper sy driekuns voltooi. Hy het ook op verdediging goeie werk verrig.

Elrich Hough, Klerksdorp se losskakel, het egter weens sy skitterende skopvertoning met die toekenning as speler van die wedstryd weggestap. Hy het spel goed afgewissel en met sy akkurate stelskopwerk die druk op Transvalia gehou.

Voorlangs het Douglas

Bruce-Smith. stut, en Adrian Snyman, haker, blink vertonings vir die wenspan gelewer.

Werner van Zyl, Transvalia se skrumskakel, se diens aan sy agterlyn was van hoogstaande gehalte. Van Zyl moes die groot skoene van Valia se SA Skole-skrumskakel, Marko Janse van Vuren, volstaan.

Vir die verloorspan verdien Hendrick Combrinck, senter, en die flank Jaco Munnik ook elk ’n klop op die skouer.

Dit het gelyk of Transvalia met ’n terugvegpoging vorendag wou kom toe Phillip Barlow-Jones, Klerksdorp-agtsteman, weens ’n herhaalde oortreding ’n geel kaart gewys is. Valia het kantlyn toe geskop en van die rolmaalbeweging is sy plaasvervanger-losvoorspeler Stephan Jacobs weens ’n trap van die veld gejaag.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.