Kleingeld verruil Paul Roos vir Gimmies

Regardt Kleingeld gaan die skilderagtige Stellenbosch verruil vir Potchefstroom wanneer hy hom by vanjaar se Bowl-kampioen in die SDC Noordvaal Cup, Potchefstroom Gimnasium, aansluit as die nuwe direkteur van rugby.
Kleingeld het sedert 2020 ‘n vername rol gespeel in die ontwikkeling van Paul Roos Gimnasium se junior rugbystrukture. Alvorens die skuif na die Wes-Kaap, het hy ook diep spore by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen getrap.
Daar het hy, soos by Paul Roos, die o.15- en o.16-spanne afgerig, waaronder ‘n paar groot name, insluitende die Goue Leeus se Voorspeler van die Jaar in vanjaar se Curriebeker-reeks, Renzo du Plessis, vir die Vossies uitgedraf het.
Gedurende sy tyd in Limpopo was hy, tesame met sy goeie reputasie as afrigter, ook een van die provinsie se voorste skeidsregters en het hy menige groot skole- en klubwedstryde behartig.
In sy vier jaar op Stellenbosch het Kleingeld met twee onoorwonne seisoene in sy vier jaar as afrigter en indrukwekkende oorwinnings oor die magtige Grey Kollege van Bloemfontein, in 2022, 2023 en 2024 op junior vlak, gespog. Hy en mede afrigter, Cobus Grobler, was dus van die min afrigters in die land wat die Bloemfonteiners, weg en tuis kom klop.
Kleingeld en Grobler se rekord spreek van self, met slegs drie nederlae en een gelykop uitslag in die vier jaar wat die duo saam afgerig het.
Hy was ook deel van die afrigtingspaneel wat vanjaar SA Rugby se o. 16 hoë-prestasie oefenkamp na die jaarlikse Grant Khomo-week gelei het. In sy vrye tyd het hy sy liefde vir afrigting voortgesit deur vir Dagbreek Manskoshuis van die Universiteit van Stellenbosch se o. 20-span tot twee agtereenvolgende titels in 2023 en 2024 te neem.
Sy hope ervaring en rugbykennis is beslis ‘n groot aanwins vir die Potchefstromers, verál met die oog daarop om hul Noordvaal-titel in 2025 suksesvol te verdedig, asook die wortel voor die neus wat promosie na die kompetisie se Skild-afdeling betref.
“Ons is opgewonde om Gimmies se nuutaangestelde rugby-direkteur aan die Gimmie-gemeenskap bekend te stel. Regardt en sy gesin verruil die een Gimnasuim vir die ander. Hy was sedert 2020 by Paul Roos Gimnasium betrokke. Ons sien uit dat hy deel van die Gimmie-familie gaan word,” lees die Gimmies se Facebook-plasing.
Kleingeld sê hy is baie opgewonde vir die nuwe uitdaging en dat hy niks minder as oneindige dankbaarheid vir almal by die “Roos” het nie.
“Potchefstroom Gimnasium was nog altyd ‘n sterk skool gewees en ek sien uit om by hulle aan te sluit en, nie net goeie rugbyspelers, maar ook goeie jong manne, deur alles was ek geleer het, te kweek,” het Kleingeld bygevoeg.
- Shitlhangu double helps Jeppe win at KES - 2025-03-22
- Wessies baas in Klerksorp-derby, Zwarries hol weg met Die Anker - 2025-03-22
- Marais Viljoen té sterk vir Pieties, Volkies skok Montana - 2025-03-22