SuperSport Schools Plus

Khunou streef na erkenning en Junior Wêreldspele

By Charne van der Merwe , in Athletics | News , at 2024-02-12 Tags:

ALICIA KHUNOU van Hoërskool Menlopark, het die skare by die skool se tartanbaan-opening betower met ‘n merkwaardige diskusgooi van 53.82m. Foto: Marius Nortje

Alicia Khunou, die 17-jarige steratleet van Hoërskool Menlopark, het die skare by die skool se tartanbaan-opening betower met ‘n merkwaardige diskusgooi van 53.82 m.

Dié gooi het nie alleen vir haar 1000 punte op die Atletiek Suid-Afrika (ASA)-tabel besorg nie, maar sy het daarmee ook die o. 20-Afrika-rekord laat spat met ‘n aansienlike 36 cm verder as Mine de Klerk se 53,50 m, wat sy in 2021 opgestel het.

Die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) erken egter nié die byeenkoms nie, wat beteken dat Khunou se rekord nie in die Afrika-rekordboek aangeteken sal word nie.

Die gooi is ook bykans twee meter verder as Ischke Senekal se SA skolekampioenskapsrekord, wat in 2012 met ‘n gooi van 49.80 m opgestel is, maar Khunou se prestasie sal hier ook nie erken word nie aangesien dit slegs op nasionale skoolbyeenkomste oortref mag word.

Khunou mik derhalwe nou daarna om haar rekord amptelik te vestig, ten einde vir die Junior Wêreldspele in Peru te kwalifiseer.

Haar uitsonderlike prestasies strek verder as hierdie gooi; Khunou het verlede jaar ook die o. 18-Afrika-rekord (Jeug) met ‘n gooi van 50.10 m by die Ndola-kampioenskappe in Zambië verbeter.

Khunou is nie alleen die Suid-Afrikaanse o .18-diskuskampioen nie, maar blink ook uit in gewigstoot. Sy het ‘n rekord van 15.93 m tydens die 2023 ASA kampioenskappe in Pietermaritzburg opgestel en ‘n oorwinning in die Statebondspele behaal met ‘n gewigstootafstand van 17.97 m.

Khunou, wat haar atletiekreis op agt jaar begin het en deur haar ma afgerig word, het ook uitgeblink in netbal, maar op 14 besluit om slegs op atletiek te fokus.

Sy skryf haar sukses toe aan haar ondersteunende familie, veral haar broer Ronald, ook ‘n kranige diskusatleet, wat die belangrikheid van spanwerk binne haar gesin beklemtoon.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.