SuperSport Schools Plus

Kempies maklik baas teen Florida

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-15

Die Hoërskool Kempton Park is ’n gunsteling om die uitspeelronde van die Beeldtrofee as die derde beste makroskolespan in die Noordvaal-streek te haal.

Kempies het Florida Vrydag in sy agterplaas met 47-15 verslaan – met die tuisspan se losskopstut, Joe Meyer, en losskakel, Francois Erasmus, aan die spits.

Meyer het hom ’n hele paar keer uit die greep van verdedigers losgewoel en só etlike meter veld gewen.

Op sy beurt het Erasmus, heelagter van die Valke se Cravenweekspan, een van sy span se sewe drieë gedruk en ook met ses doelskoppe geslaag.

Sou Kempies, soos verwag, die uitklopronde haal, sal hy met Eldoraigne swaarde kruis.

Dié Pretoriase span het vroeër sy plek as die Blou Bulle se vierde kwalifiseerder bespreek deur Wonderboom met 23-13 te klop.

Die wenner van dié kragmeting sal straks in die kwarteindronde van die reeks teen Monument van Krugersdorp te staan kom.

■ Monnas het sy jaarlikse kragmeting met King Edward VII maklik met 52-22 gewen en veral die Wit Bulle se kantman Bakkies Potgieter was op sy stukke.

Hy het twee keer gaan druk, terwyl die heelagter, Ivan Smit, oudergewoonte met sy teenaanvalle skade aangerig het.

Smit het ook twee keer afgerond.

EG Jansen min moeite met die Hoërskool Rustenburg ondervind.

Die Oos-Randers was met 73-12 baas. Die binnesenter, Erich Cronjé, en vleuel Bran­don Swartz het albei twee keer agter die doellyn gekuier het.

■ Potchefstroom Gimnasium het die Luiperds se grootskole-liga onoorwonne afgesluit, danksy ’n sege van 44-28 oor Lichtenburg.

Dié spanne sal weer in die halfeindronde slaags wees – met Potchefstroom Volkskool en die Hoërskool Klerksdorp wat mekaar in die ander wedstryd pak.

■ In Grahamstad het Kingswood College ’n naelskraapse sege van 20-19 oor St. Andrew’s College behaal in dié twee skole se jaarlikse derby.

Die verloorspan het met die omdraaislag ’n voorsprong van 7-3 geniet.

■ Danksy ’n strafdoel deur losskakel Manie Libbok kon die Suidwestelike Distrikte se Cravenweekspan die Westelike Provinsie op die eerste dag van die Suidelike Bondedag in Oudtshoorn met 24-23 troef.

Die Volstruisboere pak die Boland môre, terwyl die hoofwedstryd van die laaste dag van die toernooi tussen die Westelike Provinsie en Oostelike Provinsie beslis sal word.

Die nie-amptelike kampioen van verlede jaar se Cravenweek, die Oostelike Provinsie, se twee Suid-Afrikaanse skole-spelers – losskakel Curwin Bosh en senter Hein Bezuidenhout – het blink vertonings in dié span se oorwinning van 34-21 oor die Boland gelewer.

■ ​Blou Bulle: Hoërskool Tuine 23, Pretoria-Noord 10; HTS Tuine 24, Gerrit Maritz 0; Eldoraigne 23, Wonderboom 13.

■ Leeus: Monument 52, King Edward VII 22; Jeppe Boys’ High 39, St. John’s College 24; Randburg 38, Riebeeckrand 19; St. Benedict’s College 61, St. Stithian’s College 0; Bastion 31, Hoërskool Alberton 12; Marais Viljoen 52, Noordheuwel 22.

■ Luiperds: Potchefstroom Volkskool 28, Wesvalia 7; Potchefstroom Gimnasium 44, Lichtenburg 28; Christiana 24, Koster 22.

■ Pumas: Ligbron 35, Generaal Hertzog 13; Secunda 32, Standerton 24; Piet Retief 21 Ermelo 19.

■ Valke: Kempton Park 47, Florida 15; EG Jansen 73, Hoërskool Rustenburg 12; Oosterlig 41, Hans Moore 19; Hugenote (Springs) 39, Dr. Malan 5; Transvalia 26, Driehoek 26; Heidelberg Volkskool 52, Benoni High 13; Parys 43, Kempton Panorama 0; Brandwag (Benoni) 43, Suiderlig 0.

OOS-KAAP
​Kingswood College 20, St. Andrew’s College 19; Woodridge College 14, Cillie 13; Dale College 38, Cambridge 15.

BONDEDAG
​Suidwestelike Distrikte o.18 24, Westelike Provinsie o.18 23; Oostelike Provinsie o.18 34, Boland o.18 21.

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.