SuperSport Schools Plus

Kan Northerns sake gelyk laat trek in Diamantstad-derby?

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-10 Tags: , ,

FOTO: Asjas Fotos

Diamantveld is vasberade om nie weer vas te val teen Hoërskool Noord-Kaap wanneer die twee buurskole mekaar hierdie Saterdag die stryd aansê nie.

Die Diamonds spog steeds met ‘n gunstige rekord in die Kimberley-derby, van drie seges in hul laaste vyf ontmoetings, maar Northerns het ‘n geleentheid om sake gelyk te laat trek as hulle vanjaar wéér vir die tuisspan kan ore aansit.

Beleef die FNB Classic Clashes aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Verlede jaar was die uitslag bepaal deur ‘n strafdoel in die doodsnikke deur die Northerns se staatmaker in die nr. 10-trui, Eldridge Jack, wat ‘n sege van 18-17 vir sy span voor die tuisskare op Pirates beklink het.

Kaptein, FJ de Vries, onderkaptein, Simon Liversage, en hul makkers sal hierdie naweek nie weer die agterdeur wil ooplos vir Noord-Kaap nie. Liversage het uitgeblink in daardie wedstryd, ondanks die nederlaag, en is ongetwyfeld ‘n uiters opwindende speler om dop te hou.

Die Northerns het vanjaar vir Dihan Janse van Rensburg op losskakel, met skrumskakel, Lwandle Maseko, wat ook ewe tuis is in die nr. 10-trui. Die skakelpaar het ‘n kritieke rol om te vervul, maar oudergewoonte sal sukses grootliks afhang van die platform wat die voorspelers kan daarstel. De Vries, De Wet du Plooy en Dian Ellis bied nog heel seisoen ‘n rotsvaste basis voorlangs vanwaar Diamantveld hul giftige agterlyn kan loslaat.

Die Diamonds beleef ‘n skitterende seisoen onder hul nuwe bestuur en het verlede week hul getroue Kimberley ondersteuners se harte verbly deur albei hul wedstryde by vanjaar se Absa Wildeklawer-toernooi te wen. Hulle het in die eerste wedstryd met Marlow Landbou geploeg (57-25) en die besoekende Nieu-Seelanders, St. John’s College, op ‘n drafstap met 40-24 verslaan.

Noord-Kaap het in April met 26-30 teen Marlow verloor, maar die Kimberley-derby het ‘n manier om die beste uit spanne te haal, en die Diamonds kan ‘n klipharde stryd te wagte wees.

Diamantveld t. Hoërskool Noord-Kaap om 12:10

Diamantveld: 15 Kyle Taut, 14 Carel Viljoen, 13 Clinton Brits, 12 Simon Liversage, 11 Jonathan Harding, 10 Marno Greeff, 9 Ethan Manus, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Stiaan van Loggerenberg, 5 Zuan Rautenbach, 4 Daniël Kühn, 3 Dian Ellis, 2 De Wet du Plooy, 1 FJ de Vries.

Hoërskool Noord-Kaap: 15 Abdul Fischer, 14 Aphiwe Siyona, 13 Keanu Mettler, 12 Jayden Potgieter, 11 Jonaden Links, 10 Dihan Janse van Rensburg, 9 Lwandle Maseko, 8 Shaw Lourens, 7 Ambijorn Vraagom, 6 Tyron China, 5 Prince Bhila, 4 Annekin Grobbelaar, 3 Zayde Limburgh, 2 JP Alexander, 1 Alonzo Johnson.

Die bepalings

A-veld: 08:30 – Diamantveld o. 15 A t. Hoërskool Noord-Kaap o. 15 A; 09:30 – Diamantveld II t. Hoërskool Noord-Kaap II; 10:40 – Diamantveld o. 16 A t. Hoërskool Noord-Kaap o. 16 A; 12:10 – Diamantveld 1ste XV t. Hoërskool Noord-Kaap 1ste XV.

B-veld: 08:30 – Diamantveld III t. Bo-Karoo Sportklub 1ste XV; 09:30 – Diamantveld o. 14 A t. Hoërskool Noord-Kaap o. 14 A.

 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.