‘Kampioen’ kry pak
MIDDELBURG. – Daar sal vanjaar ’n nuwe nie-amptelike kampioen op die 51ste Cravenweek vir hoërskole hier by die HTS Middelburg gekroon word.
Suidwestelike Distrikte het die Westelike Provinsie met 38-23 in die hoofwedstryd van die derde dag die loef afgesteek om waarskynlik sy plek in die hoofwedstryd van die toernooi te bespreek.
Shadward Fillies, vleuel van SWD, het met twee drieë in slegs drie minute die Streeptruie teen die toue gehad. Net voor Fillies se eerste drie, het WP-flank Mervano de Silva oorgeval om die wenspan se voorsprong tot net 19-14 te krimp.
Fillies het van die afskop af die bal gevang en gaan druk. Net daarna het hy ’n aangee van die WP-skrumskakel, Jondré Williams, onderskep om sy tweede te gaan druk.
Die SWD-binnesenter, JT Jackson, se vertoning sal waarskynlik die langste onthou word. Hy het ’n hele paar keer soos ’n warm mes deur botter deur die Streeptruie se verdediging gesny. Hy het self twee keer gaan druk.
Hy het wel vier pogings na die pale verbrou. Jackson sal volgende jaar sy loopbaan by die Blou Bulle voortsit.
* KwaZulu-Natal het die Pumas met 38-27 verslaan en met sy vertoning gewys dat hy ’n span van gehalte is. Die agtsteman, Jaco Coetzee, en heelagter, Morné Joubert, het uitmuntend vertoon. Die losskakel, Curtis Jonas, het ook ’n goeie wedstryd beleef.
Coetzee se posisionele spel was van hoogstaande gehalte en elke keer as hy die bal onder die arm vasgeknyp het, het hy ver veld gewen.
Die Pumas se heelagter en kaptein, Barend Smit, het ook weer op sy skool se tuisveld meer as sy deel bygedra.
* Die Griffons het met hul sege van 33-15 oor Oostelike Provinsie-platteland hul onoorwonne vertoningslys op die toernooi tot agt wedstryde gerek.
Dié rekord word deur die Westelike Provinsie gehou wat in 14 agtereenvolgende wedstryde tussen 1970 en 1974 onoorwonne was.
Die Perses het sedert 2011 se toernooi in Kimberley nog net een keer verloor: teen die Pumas in 2012 in Port Elizabeth.
Die Noord-Vrystaters het dus slegs een van hul laaste 11 wedstryde verloor.
Hul senterpaar, Boeta Vermaak en Siya Ngxesha, was aan die voorpunt van die sege.
* Drie driekunste deur Grens-spelers het aan hul span ’n oorwinning van 78-17 oor die Limpopo Blou Bulle besorg. Die een vleuel Jerry Danquah en die twee senters, David Brits en Michael Brink, het elk drie drieë gedruk.
Grens was rustyd reeds met 54-0 voor.
* Die vleuel Denvill Joseph het in die laaste beweging ’n drie gedruk om Griekwas-platteland se sege van 26-20 oor Zimbabwe te verseker. Dit was ook die eerste keer in die wedstryd dat Griekwas voorgeloop het.
Die wenspan se slot, Cobus Wiese, is as Speler van die Wedstryd aangewys. Sy twee ouer broers, Japie (2005) en Jasper (2012-13), het Griekwas ook op die Cravenweek verteenwoordig.
Vandag se bepalings is: 10:10: Namibië t. Grens-platteland; 11:30: Boland t. Griekwas; 12:50: Valke t. Luiperds; 14:10: Blou Bulle t. Leeus; 15:30: Oostelike Provinsie t. Vrystaat.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16