SuperSport Schools Plus

Jonker lei Vrystaat op die 51ste Cravenweek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-18

Die Vrystaatse Cravenweek-rugbyspan sal vanjaar deur die agtsteman, Alex Jonker, aangevoer word. Jonker is ook Grey-kollege se kaptein vanjaar.

Die Vrystaat kom op die tweede dag van die 51ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole op Middelburg (Mpumalanga) in sy eerste wedstryd teen die Leeus te staan. Die Leeus mik daarna om vanjaar vir die vierde agtereenvolgende jaar in die hoofwedstryd van die week in aksie te wees.

Ondanks die slegte nuus dat die senter, Niell Stannard, dalk weens ‘n besering nie vir die span oorweeg kan word nie, het die Vrystaters wel goeie nuus gekry dat die heelagter, Louwtjie Steenkamp, reeds dié week van sy armbesering sal herstel.

Steenkamp sal reeds die naweek weer terug op sy pos teen die Griffons wees wanneer die twee spanne op Pagepark in Brandfort slaags is. Met Stannard dalk uit sal Julian Jordaan en Mike Andrade die middelveld beman. Jordaan het na ‘n blink vertoning Saterdag van die plaasvervangersbank af teen Griekwaland-Wes sy plek in die span bespreek. Hy is die neef van die Sharks-senter, Paul Jordaan.

Die Vrystaters het vyf spelers in sy geledere die vleuel Dale Koopman, skrumskakel Shirwin Cupido, flanke De Wet Bezuidenhout en Victor Maruping en die stut Ruben Terblanche in sy span wat verlede jaar ook op dié toernooi in Polokwane in aksie was.

Dit is die vyfde keer dat Mpumalanga die Cravenweek aanbied. Middelburg was in 1978 ook die gasheer. Die ander kere wat die toernooi in die voormalige Suidoos-Transvaal aangebied is, was in Witbank (1985), Secunda (1993) en Nelspruit (2004).

Die span is:

Louwtjie Steenkamp, Patrick Mbangi, Julian Jordaan, Mike Andrade, Dale Koopman, Dwayne Wessels, Shirwin Cupido, Alex Jonker, Victor Maruping, De Wet Bezuidenhout, Ruben Schoeman, Jurie Burger, Janu Botha, JC Janse van Vuuren, Ruben Terblanche. Plaasvervangers: Greydon Wenn, Gela Khayna, IG Prinsloo, Kian Skippers, Dian Badenhorst, Llewellyn Hein, Jeandré Christian.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.