SuperSport Schools Plus

Jong reuse laat oë rek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-07-02

DURBAN. – ’n Seun van 116 kg wat swaarder as die Springbokslot Victor Matfield (110 kg) weeg, is vanjaar die swaarste speler op die 43ste Cravenweek vir laerskole wat in Durban gehou word.

Stephan Posthumus van Suidwestelike Distrikte in die Wes-Kaap, is 1,79 m lank.

Hy is nie veel kleiner as Coenie Oosthuizen, die Springbokke se Cheetah-loskopstut, wat verlede Saterdag teen Skotland uitgedraf het nie. Oosthuizen weeg 127 kg en is 1,81 m lank.

Die Westelike Provinsie se vaskopstut, Jaco Claassen, is self ’n stewige jongeling. Hy weeg 112 kg en is 1,77 m lank.

Daar was gister vrae oor die veiligheid van spelers op die Cravenweek nadat ’n foto van die stewige Posthumus, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Hartenbos, op sosiale netwerke versprei is. Hy was eergister op die eerste dag van die toernooi op Glenwood se velde teen die Vrystaat in sy span se oorwinning van 10-8 in aksie.

B.D. Oosthuizen, hoof van die Laerskool Hartenbos, het gister vertel Posthumus het in gr. 6 van Kathu in die Noord-Kaap na die skool gekom. Hy het toe al rugby gespeel. “Hy is baie lief vir rugby en is die grootste ou­tjie in die skool se span. Hy is ’n groot seun met ’n groot hart. Hy gee baie om vir ander mense.”

Thys Bezuidenhout, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV), sê dit is reeds wat rugby so uniek maak. “Dit is ’n spel vir die groot, klein, lank en kort outjies waarin elk van hulle ’n rol het om te speel. Party ouens is weer vinniger as ander,” het hy gesê.

“Die stelsel wat ons gebruik, is die heel beste. Hier is baie groot seuns op die week in aksie. Slegs spelers wat onder 12 of onder 13 is, kan aan die toernooi deelneem. As ’n mens soos in die ou dae volgens spelers se gewigte gaan speel, kan ’n mens dit weer kry dat ’n speler wat 13 jaar oud is en 50 kg weeg, teen ’n speler wat in graad vier is, speel wat dieselfde weeg,” het Bezuidenhout gesê.

Volgens die amptelike program van die Cravenweek is daar 32 van die 396 seuns wat aan die toernooi deelneem, wat langer as 1,78 m is. En daar is 15 seuns wat meer as 80 kg weeg.

Die mediese bestuurder van SA Rugby, Clint Redhead, het gesê die kwessie word deurentyd gemonitor. Nieu-Seeland gebruik ’n stelsel waar spelers se gewig bepaal in watter spanne hulle op laerskoolvlak speel. “Ons het prof. Mike Lambert van die Universiteit van Kaapstad ’n paar jaar gelede gevra om vir ons navorsing te doen. Hy het bevind dat daar geen verskil is in die risiko om beserings op te doen tussen die twee stelsels nie,” het Redhead gesê.

• Meer as 90% van die spelers op vanjaar se Cravenweek verjaar in die eerste ses maande van die jaar. Verder verjaar die meeste van dié spelers in die eerste drie maande van die jaar.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.