Jim Fouche waarsku spanne in Vrystaatse liga
Jim Fouché het Saterdag op sy tuisveld teen Fichardtpark ’n duidelike waarskuwing aan al die ander spanne in die Vrystaatse A-liga gestuur.
JF het vir Fichies met 48-7 oorrompel. Dit was veral die skrumwerk en lynstaanspel van JF wat die meeste beïndruk het. Veral omdat die twee aspekte Fichies se sterk punte is.
In die skrums verdien die hele agttal ’n klop op die skouer, maar dit is die vaskopstut, Reino Coetzee, wat met sy skrumwerk en inklimspel sy span se beste speler voorlangs was.
Die lang slot Ernst Nebe (1.98m) het uitstekend in die lynstane gerank, maar dit is oor sy drie dat hy vandag met ’n bree glimlag sal rondloop. Hy het ’n losbal op die halflyn opgepik en regdeur Fichies gehardloop om te gaan druk.
Die agtsteman, Andrew Voster, en die skrumskakel, Stefan Coetzer, het ook goeie vertonings vir die wenspan gelewer.
Nie Louis Botha of Sentraal wou die kragmeting tussen hulle wen nie. Die twee spanne het die louere met 10-elk gedeel. Albei spanne kon nie aan die gang kom nie.
Die kampioen van die Vrystaatse B-liga, St. Andrew, bult reeds sy spiere in die eerste ronde van vanjaar se liga. Hy het President Steyn op Gonval Store-park in Bainsvlei met 36-22 in ’n fisieke stryd geklop. Die twee spanne het mekaar verlede jaar ook in die eindstryd gepak.
Saints se senter Michael Walsh en die vaskopstut, Leonard Jennings, was tiere op verdediging. Die slot Damon Vassen het uistaande werk in die lynstane verrig en ook in die vastelos gewoel. Hy is met twee drieë vir sy inklimspel beloon.
Die vleuel Sipho Malewa het agterlangs ook goed vertoon.
Die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort het die B-liga met ’n naelskraapse sege van 15-13 oor Sand du Plessis op Page-park in Brandfort afgeskop.
Die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg het die intrapslag in vanjaar se liga met ’n oorwinning van 56-3 oor Hoërskool Bloemfontein gewys dat nie vanjaar ’n maklike span gaan wees nie. Die span se losskakel, Juandré Rautenbach, het al agt sy span se drieë vir ’n bydra van 16 punte verdoel.
Grey-kollege het Maritzburg College met 60-13 in Bloemfontein uit die pad gestamp. Die span van die Rosestad het dalk duur vir die sege betaal met die losskakel, Mario Vieira, senter Gerrie Koegelenberg en die stut Tristan Spies wat die veld weens beserings verlaat het.
Grey se agttal het die grondslag vir die sege gelê. Hy het in die skrums en die lynstane die oorhand gehad. Die lostrio van Dian Schoonees, Arno Nieuwoudt en Wihan Klopper vul mekaar goed as kombinasie aan.
Agterlangs het die heelagter, Jandré de Beer, ’n hele paar keer goeie lopies ingekry, terwyl sy posisionele spel ook uitstaande was.
Puntemakers:
Grey-kollege 60 (38): Drieë: Jandré de Beer (3), Janco van Heyningen (2), Wihan Kloppers (2), Rikus Pretorius. Doelskoppe: Christopher Schreuder (5). Strafdoele: Mario Vieira (2), Schreuder. Maritzburg College 13 (13).
Jim Fouché 48: Drieë: Francois Maree, Ernst Nebe, Willie van der Berg, Miles Wooley, Werner Stofberg, Reino Coetzee. Doelskoppe: Henco Venter (3). Strafdoele: Venter (4). Fichardtpark 7: Drie: Lohan Zeelie. Doelskop: Jevan Botes.
Sentraal 10: Drie: Ruan van der Walt. Doelskop: Jano Earle. Strafdoel: Jaden Seekoei. Louis Botha 10: Drie: Gela Khanya. Doelskop: Rethabile Mzamo. Strafdoel: Mzamo.
St. Andrew 36: Drieë: Damon Vassen (2), Sipho Malewa, Liam Bouwer, Sean Newberry, Greg van Mastrigt. Doelskoppe: Michael Maree (2), Mark le Riche. President Steyn 22: Drieë: Niel Smith, Janco Nel, Luandré Nel. Doelskoppe: Gailin Neels (2). Strafdoel: Neels.
Brandfort 15: Drieë: André Janse van Rensburg, Christiaan Botha. Doelskop: Francois Fourie. Strafdoel: Fourie. Sand du Plessis 13: Drie: Nicky Hattingh. Doelskop: William Bloem. Strafdoele: Bloem (2).
Hendrik Potgieter 56: Drieë: Breyton Arendse (2), Boeta Godbeer (2), Quinton Erasmus (2), Ruaan Cloete, Romario Roules. Doelskoppe: Juandré Rautenbach (8). Hoërskool Bloemfontein 3.




