JF wil wendroogte teen Marlow Landbou verbreek
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Jim Fouché sal vandag vir so bietjie Shimla-magic hoop wanneer hy Marlow Landbou in hul jaarlikse interskole in Bloemfontein pak.
Die span van die Rosestad word deur die Shimlas se kaptein en heelagter, AJ Coertzen, en dié span se tegniese raadgewer, André Tredoux, gebrei. Die Shimlas is vroeër vanjaar die eerste keer as Varsitybeker-kampioen gekroon.
Die Wolramme van net buite Cradock sal in die 16de interskole tussen dié twee skole probeer om die derde agtereenvolgende jaar met die louere weg te stap.
Marlow het in 2013 vir slegs die tweede keer in die geskiedenis daarin geslaag om JF op sy tuisveld te troef toe hy naelskraap met 22-21 baas was.
Verlede jaar was die Wolramme met 27-23 in Cradock bo.
Die span van Bloemfontein sal dus die wendroogte teen die besoekers wil verbreek.
Sentraal het vroeër die seisoen teen Marlow met 14-12 die knie gebuig. Die Tralies het met hul sege van 41-34 oor Louis Botha hulself as die vroeë gunstelinge in die Vrystaatse A1-liga gevestig.
Die Bloktruie sal vandag teen Fichardtpark egter nie te oorgerus op die veld kan draf nie. Fichies sal Sentraal se heelagter, SJ Fourie, en agtsteman, Kobus Lombaard, fyn moet dophou.
In die Vrystaatse B1-liga sal Sand du Plessis die moeilike taak hê om na Zastron te reis. Sannies is een van die vroeë gunstelinge, maar dit is nooit maklik om ’n sege in Zastron teen die tuisspan te gaan behaal nie.
Brandfort kom in nog ’n belangrike stryd van dié liga teen President Steyn op die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg se sportdag te staan.




