Jansies skitter teen Ligbron

Hoërskool Dr EG Jansen het vir die derde agtereenvolgende wedstryd ‘n puik vertoning opgedis, dié slag teen Ligbron Akademie van Ermelo.
Die span van Boksburg het nege keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier om met ‘n telling van 57-23 as oorwinnaars uit die stryd te tree.
Die Jansies lyk na ‘n span wat nie sonder handskoene aangedurf kan word nie, op die vooraand Affies se Noord/Suid-toernooi wat later hierdie week afskop. Hulle het in al drie hul wedstryde tot dusver vanjaar daarin geslaag om meer as 40 punte op te stapel.
Kaptein en vaskopstut, Duwan Potgieter, het van voor gelei, was gesaghebbend in die skrums, en het die pap dik aangemaak in die vaste los. Hy was ook meedoënloos op die aanval, en het met dinamiese dryfspel sy span telkens oor die voordeellyn gekry.
Die Jansies se kaptein is met ‘n tweekuns vir sy harde werk beloon.
Kort op sy hakke was haker, Danre Pike, wat oudergewoonte ‘n doring in die vlees van die opposisie was. Pike het self, à la Malcom Marx, die doellyn twee keer oorgesteek, vanaf die Jansies se kragtige dryfmaalbewegings.
Marco Ventura het die Jansies se oorheersing voorlangs voortgesit. Die agtsteman, wat vir die beseerde Gerhard van Aswegen ingestaan het, het sy stempel behoorlik afgedruk met ‘n tweekuns van sy eie.
Agterlangs was die buitesenter, Jean-Dre Claasen, op sy stukke. Hy het die Liggie-verdedigers deurentyd geterroriseer met sy uitmuntende aanvalsvermoë. Benewens ‘n drie, het hy ook het twee van sy span se nege drieë verdoel.
Die Liggies hoef egter nie hul koppe in skaamte te laat sak nie. Die tuisspan het ‘n waardige vertoning gelewer en, met rukke en stote, taamlik gevaarlik gelyk, verál wanneer die agterlyn spasie gegun is. Regtervleuel, Siyanda Dennison, byvoorbeeld, het ‘n waarskuwing gerig aan toekomstige teenstanders met ‘n uitstekende individuele lopie wat op ‘n drie agter die Jansies se pale uitgeloop het.
Divan van Jaarsveldt het ook sy skopskoen aangehad. Die losskakel het altwee sy span drieë met gemak verdoel, en ook drie strafdoele deur die mikke gejaag om sy bydrae vir die wedstryd op 13 te staan te bring. Voorlangs was die oopkantflank, Tiaan Botha, die tuisspan se uitblinker. Hy het gewoel in die los en was ook die eerste Liggie wat die Jansies se doellyn kon oorsteek.
Puntemakers:
Hoërskool Dr EG Jansen 57 (38) – Drieë: Duwan Potgieter (2), Danre Pike (2), Marco Ventura (2), Jean-Dre Claasen, Zandre Naude, Ntkokozo Ngobese. Doelskoppe: Matthew Bergman (4), Jean-Dre Claasen (2). Ligbron Akademie 23 (13) – Drieë: Tiaan Botha, Siyanda Dennison. Doelskoppe: Divan van Jaarsveldt (2). Strafdoele Van Jaarsveldt (3).
Ander spanne:
o. 16: EG Jansen 63, Ligbron 17.
o. 15: EG Jansen 31, Ligbron 12.
o. 14: EG Jansen 19, Ligbron 12.