HTS Middelburg eerste kampioen van Noordvaal Sewes
Die Hoër Tegniese Skool Middelburg is Saterdag op Menlopark hier as die eerste kampioen van die Noordvaal Sewesrugby-toernooi vir o.17-spanne gekroon.
Die Rooi Bulle het Garsfontein van die Jakarandastad met 31-24 in ’n titaniese eindstryd die loef afgesteek.
Met speeltyd feitlik verstreke was die telling 24-elk en slegs ’n breekslag deur Eric Basson wat op ’n drie vir Walter Janse van Rensburg uitgeloop het was die verskil tussen die twee spanne.
Garsfontein se Shakeel Fredericks en Abner van Heerden het skitterende spel in die tweede helfte opgedis om hulle span in die kragmeting te hou.
Die Rooi Bulle het net voor rustyd gaan druk om ’n voorsprong van 17-14 met die omdraaislag te geniet.
Boonop kon Garsies se invloedryke, Embrose Papier, nie na rustyd sy terugkeer op die veld maak weens ’n enkelbesering nie.
Garsies se Carling Forwood was in die koelkas toe Janse van Rensburg die wendrie gaan druk het.
Forwood het kort voor die drie ’n aanval van HTS Middelburg met ’n pooitjie gestuit.
Indien daar ’n speler van die toernooi aangewys sou word, sou dit ongetwyfeld tussen Basson van die kampioene en Van Heerden van Garsies gewees het.
Die span van Middelburg is deur die voormalige Blitsbok, Dirkie Strydom, afgerig.
Die kampioen het Bastion (29-14), Menlopark (31-5) en Waterkloof (24-19) in sy drie groepwedstryde verslaan.
Garsies het ietwat gemakliker bo-aan sy groep geëindig toe hy Die Anker (38-5), Hans Strijdom (55-0) en Hoërskool Middelburg (19-12) verslaan het.
HTS Middelburg het Oos-Moot met 24-0 in die kwarteindstryd verslaan, terwyl die span weer vir Klofies (22-7) moes klop om sy plek in die eindstryd te bespreek.
Garsies het met EG Jansen (17-10) in die kwarteindstryd klaargespeel, terwyl hulle met 33-19 oor Hoërskool Middelburg in die halfeindstryd baas was.
Waterkloof het ’n bronsmedalje verdien toe hy vir Hoërskool Middelburg 17-14 in die uitspeelwedstryd om die derde posisie uitoorlê het.
EG Jansen het in die Plaat-halfeindstryd die bordjies teen Monument verhang deur 22-17 as oorwinnaars van die veld te stap.
Monnas was 17-10 in die twee spanne se groepwedstryd baas. Jansies het die Plaat verower deur Oos-Moot met 17-12 te troef.
Al die uitslae:
Groep A: Garsfontein 38, Die Anker 5; Middelburg 26, Hans Strijdom 0; Garsfontein 55, Hans Strijdom 0; Middelburg 12, Die Anker 12; Garsfontein 19, Middelburg 12; Die Anker 31, Hans Strijdom 0.
Groep B: Monument 17, EG Jansen 10; Montana 31, Hans Moore 5; Monument 46, Montana 0; EG Jansen 21, Hans Moore 0; Monument 34, Hans Moore 7; EG Jansen 22, Montana 0.
Groep C: Ben Vorster 26, Heidelberg-Volkskool 14; Helpmekaar 19, Oos-Moot 10; Helpmekaar 26, Heidelberg-Volkskool 7; Oos-Moot 26, Ben Vorster 12; Oos-Moot 24, Heidelberg-Volkskool 7; Helpmekaar 7, Ben Vorster 5.
Groep D: HTS Middelburg 29, Bastion 14; Menlopark 12, Waterkloof 12; HTS Middelburg 31, Menlopark 5; Waterkloof 29, Bastion 0; HTS Middelburg 24, Waterkloof 19; Menlopark 31, Bastion 5.
Kwarteindstryde – Bowl: Die Anker 34, Hans Moore 14; Montana 12, Hans Strijdom 7; Menlopark 21, Heidelberg Volkskool 7; Ben Vorster 31, Bastion 12. Beker: Garsfontein 17, EG Jansen 10; Middelburg 19, Monument 7;
HTS Middelburg 28, Oos-Moot 0; Waterkloof 22, Helpmekaar 5.
Halfeindstryde – Skild: Hans Moore 17, Hans Strijdom 12; Heidelberg-Volkskool 19, Bastion 0. Bowl: Die Anker 22, Montana 5; Ben Vorster 14, Menlopark 12. Plaat: EG Jansen 22, Monument 17; Oos-Moot 24, Helpmekaar 7. Beker: Garsfontein 33, Middelburg 19; HTS Middelburg 22, Waterkloof 7.
Uitspeelwedstryde om derde en vierde plek: Waterkloof 17, Middelburg 14.
Eindstryde – Skild: Heidelberg- Volkskool 10, Hans Moore 5. Bowl: Die Anker 28, Ben Vorster 12. Plaat: EG Jansen 17, Oos-Moot 12. Beker: HTS Middelburg 31, Garsfontein 24.