Henties en Voortrekker weer in Griffon-eindstryd
Hentie Cilliers van Virginia se eerste rugbyspan het Saterdag die bordjies behoorlik teen Goudveld-Hoërskool verhang deur die halfeindstryd tussen die twee spanne Saterdag in die Noordwes-stadion in Welkom met 36-23 te wen.
Henties het vroeër vanjaar die knie met 20-19 teen Gouties in die liga gebuig. Wat die sege nog meer merkwaardig maak is die feit dat Goudveld se senterpaar, Carlton Coeries en Gregan Hull, sowel as die vleuel Anwar Ohlsen en heelagter Jaco Conradie verlede jaar vir die span van Virginia se eerstespan gespeel het.
Dan moes Henties Saterdag nog sonder sy Cravenweek-spelers die senter, Siyamkela Ngxesha, en stut, Neo Mohapi, klaarkom wat weens beserings nie beskikbaar is nie. Die span se Akademie-week senter, Ronaldo Fortuin, is ook op die krukkelys.
Hentie Cilliers het die vorige twee jaar die titel as kampioen ingepalm, maar sal Saterdag ’n moeilike taak hê wat om hom in die eindstryd van die Griffon-liga wag.
Vir Goudveld het sy kaptein en flank Michael Herbert, losskakel Shaquille Adams en Hull sowel as die slot Pietman Kotze blink vertonings gelewer.
Vir die span van Virginia was sy senter Sylvester Lewis en losskakel Luan James uitblinkers.
) Voortrekker van Bethlehem is steeds onoorwonne en sal na sy sege van 44-24 oor die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die Noordwes-stadion in hulle halfeindstryd die eindstryd as gunsteling betree.
Die Trekkers se Cravenweek-senter, Boeta Vermaak, was weer op sy stukke teen Rooiskool. Hy het twee keer gaan druk en bresse amper na willekeur in die verloorspan se verdediging geslaan.
Die span van Bethlehem se vleuel, Tiisetso Madonsela, het ook twee keer die doellyn oorgesteek. Die wenspan se ander uitblinkers was sy flank Ruan Swart, agtsteman Junior Oosthuizen en buitesenter Donovan Bouwer.
Die span se losskakel, Tokkie van Zyl, het weer waardevolle ’n bydrae van 22 punte tot sy span se totaal bygedra.
Vir Rooiskool het sy agtsteman Johan Steyn en skrumskakel Duncan Horak moedig.
Puntemakers:
Voortrekker 44 – Drieë: Tiisetso Madonsela (2), Boeta Vermaak (2), Lethole Mokoena, Tokkie van Zyl. Doelskoppe: Van Zyl (4), Donovan Bouwer. Strafdoele: Van Zyl (3). AHS Kroonstad 24 – Drieë: Jeandré Uys, JP Kalp, Kobus Kleyn. Doelskoppe: Ruben Aucamp (3). Strafdoel: Aucamp.
Hentie Cilliers 36 (14) – Goudveld-Hoërskool 23 (10) – Drieë: Michael Herbert, Gregan Hull. Doelskoppe: Shaquille Adams (2). Strafdoele: Adams (3).
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22