Hentie Cilliers skop liga goed af
HENTIE CILLIERS het sy aanslag om vanjaar sy titel as Griffon-rugbykampioen te behou met ‘n sege van 22-20 oor Welkom-Gimnasium afgeskop. Die span se vleuel, Jonathan April het gewys hoekom hy so gevaarlik met die bal in die hand is. Hy het twee keer gaan druk en lyk reg om vanjaar sy stempel op die Cravenweek vir hoërskole in Middelburg af te druk.
Henties se skrumskakel, Jaywinn Juries behoort ook die Perses op die toernooi te verteenwoordig en het met sy spel in die wedstryd gewys dat hy ook ‘n staatmaker in Middelburg behoort te wees. Die wenspan se agtsteman, Nathan Kemp het voorlangs goeie spel vir die wenspan gelewer.
Gimmies het 13 punte met stelskoppe verbrou. Die span se loskopstut, Fanie Vermaak was verwoestend in die skrums en het ook in die los gewoel. Die flank Byron Ferreira en vaskopstut Lincoln Jordaan het voorlangs ook meer as hulle deel gedoen. Agterlangs was die senter Danie Hendricks op sy stukke.
Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het ‘n oortuigende sege van 62-0 oor HTS Welkom behaal. Die span se slot Ettienne O’Donvan, agtsteman Johan Steyn, senter Kobus Kleyn, flank JP Kalp en senter Francois Stemmet het almal blink vertonings gelewer. Steyn het van slot na agtsteman geskuif en Stemmet van agtsteman na senter. Die noodgedwonge proefneming het duidelik gewerk teen die Tekkies, maar sal nog oor die volgende paar weke beproef word.
Voortrekker van Bethlehem het te veel skietgoed vir Goudveld-Hoërskool gehad. Die Trekkers het die kragmeting tussen die twee spanne gemaklik 38-3 gewen.
Witteberg moes harder werk om Hoërskool Kroonstad 22-6 onder te kry. Die wenspan se agtsteman Aristeo Desiderio, flank Christiaan de Jongh en stut Xolani Jacobs het goed gespeel. Vir Blouskool was Jan-Louis du Plessis voorlangs en Gerbrand de Bruin agterlangs die beste spelers.
Witteberg het ook vroeër in die week vir Standerton 41-26 verslaan.
Puntemakers:
AHS Kroonstad 62 (24) – Drieë: Herholdt Hills (2), Henry Searle (2), Kobus Kleyn, Ettienne O’Donovan, Louis Steyn, Johan Steyn, Burnett Staal. Doelskoppe: Ruban Aucamp (6). HTS Welkom 0.
Hentie Cilliers 22 – Drieë: Jonathan April (2), Ezrick Alexander, Jaywinn Juries. Doelskop: Juries. Welkom Gimnasium 20 – Drieë: Wian Odendaal, SJ Malherbe, Danie Hendricks. Doelskop: JL Carry-Smith. Strafdoel: Carry-Smith.
Voortrekker 38 – Drieë: Tokkie van Zyl, Toffie van Zyl, Boeta Vermaak, Apin Odendaal, Lethole Mokoena, Henko Naudé. Doelskoppe: Tokkie van Zyl (4). Goudveld-Hoërskool 3.
Witteberg 41 – Drieë: Ryno Badenhorst, Wiaan Pittendrich, Aristeo Desiderio, Kamahelo Ledimo, Dean Bubb. Doelskoppe: Louis Spershott (5). Strafdoele: Spershott (2). Standerton 26.
Witteberg 22 (15) – Drieë: Tshepi Mofokeng (2), Reinhardt Chapman. Doelskoppe: Louis Spershott (2). Strafdoel: Spershott. Hoërskool Kroonstad 6 (3) – Strafdoele: Reinhard Kleinhans (2).
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16