Hennenman lewer groot verrassing op
HOËRSKOOL HENNENMAN het Saterdag die bordjies verhang soos niemand nog dit hierdie seisoen op ‘n skolerugbyveld in die sentrale streek gedoen het nie. Hennenman het Riebeeckstad in die halfeindstryd van die Sandveld-liga in die Noordwes-stadion 20-17 geklop. Riebies het in die twee spanne se twee ligawedstryde onderskeidelik 26-9 en 30-0 as oorwinnaars van die veld gestap.
Na Riebies Saterdag teen rustyd 17-3 in beheer was, sou baie ander spanne die stryd gewonne gegee het. Hennenman het egter in die tweede helfte met durf vorendag gekom en sy skrumskakel Marco Pretorius het in die doodsnikke van die kragmeting gaan druk om aan sy span die oorwinning te besorg. Hy het ook sy eie drie verdoel.
Die besering van Zander Bester van Riebies het ook ‘n groot invloed in sy span se insinking in die tweede helfte gehad. Hy moes die veld weens harsingskudding verlaat. Die verloorspan se losskakel, Siegie van Wyk het ook goeie spel gelewer.
Hennenman kom Saterdag teen Bothaville in die eindstryd op die Noordwes-stadion te staan. Bothaville sou in die ander halfeindstryd teen Wessel Maree van Odendaalsrus gespeel het. Laasgenoemde kon egter weens te veel beserings nie die kragmeting speel nie. In die o.16-afdeling van die Sandveld-liga pak Bothaville en Wessel Maree mekaar in die eindstryd. Die twee eindstryde sal voorwedstryde vir die Curriebeker-wedstryd tussen die Griffons en die Luiperds wees.
In die Oos-Vrystaatse halfeindstryde het Wilgerivier slegs 45 minute nodig gehad om Reitz 59-3 te verslaan. Die span se flank Gerrie Muller het drie keer agter die doellyn gaan kuier.
Vrede het in die ander halfeindstryd ook die bordjies verhang. Hy het Paul Erasmus 29-17 geklop na hy vroeër in die liga-wedstryd tussen die twee spanne 12-17 die knie gebuig het.
Diamantveld het na Johannesburg gereis en teen Jeppe Boys’ High 19-36 vasgeval. Duineveld het vir Hoërskool Kalahari van Kuruman ‘n drag slae van 47-7 toegedien.
Puntemakers:
Wilgerivier 59 (38) – Drieë: Gerrie Muller (3), Gerhard van Rensburg (2), Guillaume Strydom (2), De Wet Ungerer, Jacques van Rensburg. Doelskoppe: SF Meyer (7). Reitz 3 (3).
Vrede 29 (7) – Drieë: Charl du Toit (2), JS de Villiers, Abri Wessels, Mark Cockroft. Doelskoppe: Johan Esterhuizen (2). Paul Erasmus 17 (12).
Hennenman 20 (3) – Drieë: Wessel Marx, Didier Botes, Marco Pretorius. Doelskop: Pretorius. Strafdoel: Angelo Pienaar. Riebeeckstad 17 (17) – Drieë: Siegie van Wyk (2), JM Uys. Doelskop: Uys.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22