Helpies behaal naelskraapse sege oor Oos-Moot
Dit was ’n geval van so naby, maar tog so ver vir die eerste rugbyspan van die Hoërskool Oos-Moot. Helpmekaar-kollege het die Blou Bulle se kampioen met 24-19 in die halfeindronde van die Beeld Noordvaal Trofee uitgeskakel.
Oos-Moot van Pretoria se drome om vir die eerste keer sedert 1982 as Beeld Noordvaal Trofee kampioene gekroon te word, het op sy tuisveld in die slag gebly.
In ’n kragmeting van twee helftes was die verskil tussen die twee spanne op die ou einde die verspreidingsvermoë van Helpies se losskakel, Justin Taylor.
Die tuisspan het eintlik die meeste van die speelwerk in dié halfeindstryd gedoen. Die span se groot vleuel, JP Alberts, het in die eerste helfte ’n gulde geleentheid verspeel. Alberts het aan die bal geklou terwyl ’n aangee op ’n seker drie sou uitloop.
Die span van die Jakarandastad se ander vleuel, Terrance Kingsburgh, het ’n droomwedstryd beleef. Hy het binne die eerste tien minute sy direkte teenstander, MP Hendriks, drie keer geklop. As hy en Alberts meer gehalte besit gekry het, kon sake dalk anders verloop het. Oos-Moot se hantering agterlangs het hom in die steek gelaat.
Die span se heelagter, Tiaan Bedford, het egter in die voorlaaste beweging gaan druk. Die skeidsregter, Wilko Esterhuizen, het beslis dat die aangee na Bedford vorentoe was. As dié aangee nie vorentoe was nie, sou die doelskop deur die senter en kaptein, Ronald van Wetering vanuit die hoekie bepaal het wie tot die eindstryd deurdring.
Taylor het deur ’n gaping geglip om die aanvoorwerk vir Helpies se eerste drie deur Hendriks gedoen.
Die span van Johannesburg se ander vleuel, Mel Mathieson, het ook ’n hand in dié drie gehad.
Die wenspan se haker, Tiaan van der Merwe, en kaptein en flank, Eddie van der Merwe, het voorlangs ingeklim.
Vir Oos-Moot was niemand beter as sy skrumskakel, Johan Marais, nie. In die agttal het die flank Ruhan Viljoen en stut Frikkie Deysel ook goeie werk verrig.
In Tzaneen het Potchefstroom Gimnasium ’n merkwaardige sege van 21-10 oor Ben Vorster behaal.
Gimmies het die hitte van bykans 30 grade Celcius asook die busrit van meer as 500 km oorkom om sy plek in die eindstryd te bespreek.
Die twee spanne het met die telling op 3-elk gaan rus. Die tuisspan het vroeg in die tweede helfte danksy ’n drie deur sy vleuel Sibusiso Mhlangeni ’n voorsprong van 10-3 bewerkstellig.
Ben Vorster se stoom het egter opgeraak en Gimmies het in die laaste gedeelte van die kragmeting beheer oorgeneem. Gimmies se slot Gwampie van den Berg en flank Marcel Burger verdien elk ’n klop op die skouer.
Vir die verloorspan het die agtsteman, Stefan Engelbrecht, en die skrumskakel, Eduan Smit, blink vertonings gelewer. Ben Vorster se twee breiers, André Hay en Hein Wagner, rig nou al tien jaar lank die skool se eerste span af.
Puntemakers:
Helpmekaar 24 (21) – Drieë: Wian van der Berg, Tiaan van der Merwe, MP Hendriks. Doelskoppe: Chuiner van Rooyen (3). Strafdoel: Van Rooyen. Oos-Moot 19 (0) – Drieë: Jason Maartens, Terrance Kingsburgh, Erik Lourens. Doelskoppe: Ronald van Wetering (2).
Potchefstroom Gimnasium 21 (3) – Drieë: Heinrich Siepker, Tyre Bezuidenhout. Doelskop: Jaswyn Damon. Strafdoele: Damon (2). Skepdoel: Cassie Dreyer. Ben Vorster 10 (3) – Drie: Sibusiso Mhlangeni. Doelskop: Eduan Smit. Strafdoel: Smit.
Ander spanne:
o.16: Helpmekaar 52, Oos-Moot 23; Potchefstroom Gimnasium 12, Ben Vorster 10.
o.15: Potchefstroom Volkskool 17, Linden15; Helpmekaar 13, Oos-Moot 13 (Helpmekaar dring deur tot eindstryd omdat hulle die meeste drieë in die kragmeting gedruk het).
o.14: Transvalia 39, Ben Vorster 0; Helpmekaar 37, Oos-Moot 6.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




