SuperSport Schools Plus

Griffons-skole ontevrede oor VS se verteenwoordigers in Colts-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-18

 

KovsieRugbyLogoUit vele geledere vanuit die Griffons se skolerugby-strukture is daar ongelukkigheid oor die Vrystaat se twee verteenwoordigers in die Kovsiestreek-kompetisie se Colts-liga. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.

Die Vrystaat het besluit om die verloorspanne in die halfeindronde van die Vrystaatse B1-liga as sy twee spanne vir vanjaar se Colts-liga deur te gee. Die twee spanne is die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort en Zastron.

Laasgenoemde het egter besluit om hom aan die kompetisie te onttrek en die span wat vyfde in die Vrystaatse liga geëindig het, Sand du Plessis, het Zastron se plek ingeneem. Die wenners van die twee halfeinstryde, St. Andrew en President Steyn, het tot die halfeindrondes van die streekkompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) deurgedring.

“Toe die kontrak tussen dié drie unies en Kovsies vroeër hernu is, was een van die voorwaardes dat die Colts-liga slegs vir die kleinste van die kleinskole bly,” het Victor Campher, voorsitter van die Griffons se Skolerugby-vereniging (GSRV), gesê. Dié verstandhouding is glo dat slegs skole met twee of minder spanne aan dié liga kan deelneem.

Die Sandveld se Hoërskole Rugby-subunie (SHRU) het in ‘n brief aan Campher sy misnoeë oor die stand van sake deurgegee. In die brief se SHRU dat Sand du Plessis nog verlede jaar in die Vrystaatse A1-liga gespeel het. “Dit is met groot skok dat ons moet verneem dat ander provinsies hulle ligas so manipuleer sodat hul spanne die beste kans het om met ‘n trofee weg te stap,” lui die brief aan Campher wat deur die sekretaris van die SHRU, Kalla Kalsbeek, onderteken is.

Bultfontein is die Griffons se verteenwoordiger en sal teen Sannies in die halfeindronde te staan kom. Die Vrystaatse B2-liga waaruit die unie se verteenwoordigers vir die Colts-liga gekom het, bestaan nie meer as ‘n liga nie. Van die spanne in die B2-liga het slegs Martie du Plessis en Bohmer teen mekaar gespeel. Die ander spanne soos Koffiefontein, Sehunelo, Tsoseletso en die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg het ook vanjaar aan die Vrystaatse B1-liga deelgeneem.

Griekwas se verteenwoordiger in die Irawa-liga, die Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas, kon by van sy ligaverpligtinge vanjaar slegs ‘n eerstespan in die veld stoot. Die span van Kakamas het bo-aan die puntelys in die Griekwas se kleinskoleliga geëindig en daaroor tot die streekkompetisie deurgedring.

“Ja, hulle het wel ook in mediumskole se halfeindronde gespeel, maar dit is slegs iets wat ons vanjaar as proefneming gedoen het om ook aan ons kleinskole die geleentheid te gee om hulle teen die groter skole te toets,” het Danie Slabbert, voorsitter van die Griekwa Skolerugby-vereniging (GWSRV), gesê.

Kathu wat Griekwas se verteenwoordiger in die Irawa-liga is, het Martin Oosthuizen in die Griekwa-halfeindstryd met 38-10 verslaan.

 

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.