Griffons plattelandse eindstryd beloof op harde stryd soos min te wees

DIE Griffons se plattelandse liga se eindstryd tussen Hoërskool Wilgerivier en Hoërskool Bothaville beloof om een van die hardste tweestryde nog in die eindstryd van dié liga te wees. Albei spanne is nog onoorwonne en sal graag die status wil behou wanneer hulle in die halfeindstryde van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) ingaan. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Die wenner van die eindstryd sal teen die Vrystaatse B1-liga kampioen in die halfeindstryd in Bloemfontein op 24 Augustus kragte meet. Wilgerivier is die verdedigende kampioen van die Irawa-liga. In die Vrystaatse eindstryd kom President Steyn teen Zastron te staan. Zastron is die gunstelinge om as kampioen gekroon te word. Wilgerivier het die eintste Zastron verlede jaar naelskraaps in die eindstryd verslaan om as streekkampioen gekroon te word.
Landboudal van Jacobsdal sal teen die naaswenner van die Griffons op GWK-park in Kimberley in die ander halfeindstryd sake uitspook. Landboudal het in 2008 tot die halfeindstryd van die Shimla-liga (vir mediumskole) deurgedring, maar toe teen Jim Fouché vasgeval.
Lanties is egter die onbekende faktor in vanjaar se liga. Die span het sy liga-verpligtinge onoorwonne afgesluit. Dit het indrukwekkende oorwinning oor Hoërskool Upington, Duineveld en Hoërskool Kalahari van Kuruman ingesluit.
In die nuwe Colt-liga het Bultfontein en Sandveld reeds hulle plekke bespreek. Die wenner van die twee spanne se eindstryd sal teen die Vrystaatse B2-liga kampioen in die halfeindstryd van die Colts-liga te staan kom. Bultfontein is die vroeë gunsteling teen Sandveld, terwyl die Hoër Landbouskool Reddersburg nie veel problem behoort te ondervind om Seonela in die Vrystaatse eindstryd te verslaan nie. Reddersburg het Heatherdale van Heidedal 51-0 in die Vrystaatse halfeindstryd afgeslag.
Die naaswenner van die Grifffons sal die Griekwa-kampioen van hulle kleinskole-liga in die ander halfeindstryd ontmoet. Adamantia van Kimberley is ‘n vroeë gunsteling om Griekwas in die kompetisie te verteenwoordig.
Die Kovsiestreek-kompetisie se Volksblad-liga, voorheen die Jip-liga, vir o.15-spanne se deelnemers sal ook na die naweek bekend wees.




