SuperSport Schools Plus

Griffons kies voorlopige span vir Stellenbosch

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-06

Meer as die helfte van die Griffons se voorlopige Cravenweek-span kom uit Welkom-Gimnasium. Gimmies het 12 lede in die groep wat op 15 Junie teen sy eweknie van Griekwaland-Wes op Hoërskool Diamantveld in Kimberley te staan sal kom.

Die Perses sal sy spanne na dié kragmeting finaliseer. Die span van die Noord-Vrystaat kom ook op die Vrystaatse Bondedag op 20 Junie teen Griekwa-platteland te staan. Hy sal nie vanjaar soos gewoontlik teen die Vrystaat kragte voor die toernooi meet nie oor die feit dat die twee mekaar in hulle eerste wedstryd op die 52ste Cravenweek vir hoërskole in Stellenbosch sal pak.

Die Griffons spog met ‘n trots rekord op die toernooi en het verlede jaar se toernooi in Middelburg (Mpumalanga) onoorwonne afgesluit. Vyf lede van verlede jaar se span die stut Fanie Vermaak, losskakel Luan James, skrumskakel Jason Olivier, senter Siya Ngxesha en die plaasvervanger-stut Neo Mohapi is in die binnebaan om ook saam na Stellenbosch te reis.

Die Vrystaatse o.18-span sal teen Griekwa-platteland op 15 Julie in die Diamantstad te staan kom. Op sy Bondedag sal die Vrystaat die Poubloues die stryd aansê.

Die Griffons het op die laaste vier Cravenweke nog net een keer verloor.

Die enigste nederlaag was in 2012 in Port Elizabeth op die eerste dag teen die Pumas (28-48). Die span het nou agt wedstryde agtereenvolgens op die toernooi gespeel sonder om te verloor.

Welkom-Gimnasium is die enigste onoorwonne span in die Griffon-liga. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se twee skitterende slotte, Michiel Bosman en Ettienne O’Donovan, is twee van vier spelers van Rooiskool in die span.

Die Vrystaat hou vandag hulle finale proewe waarna hy sy onderskeie voorlopige spanne vir die onderskeie nasionale weke sal bekend maak. Wessel du Plessis (Grey) en Corné Erasmus (Louis Botha) is dié span se afrigters.

Verlede jaar se hoofafrigter, Dirkie Groenewald, het dié tuig as die span se breier neergelê.

Die Perses word soos verlede jaar deur Kassie Kasselman (Wessel Maree) en Roean Bezuidenhout (Gimmies) gebrei.

Die span is:

Marco Labuschagne (Voortrekker), Tristan Rothman (Welkom-Gimnasium), Siya Nxgesha (HTS Welkom), Danie Hendriks (Welkom-Gimnasium), Dylan Stiemmie (AHS Kroonstad), Luan James, Jason Olivier, SJ Malherbe, Jerome Lottering (almal Welkom-Gimnasium), Gift Dlamini (Hentie Cilliers), Michiel Bosman, Ettienne O’Donovan (albei AHS Kroonstad), Lincoln Jordaan (Welkom-Gimnasium), Reinard van der Vyver (Wessel Maree), Fanie Vermaak (Welkom-Gimnasium). Plaasvervangers: Duke Jantjies, Neo Mohapi (albei Welkom-Gimnasium), Lebo Sekhobo (Wessel Maree), Johan Steyn (AHS Kroonstad), Jacques Henning, Richman Gora (albei Welkom-Gimnasium), Rudolph van Biljon (Witteberg).

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.