SuperSport Schools Plus

Griffons kies voorlopige span vir die Cravenweek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-28

DIE Griffons het vier spelers in sy voorlopige rugbyspan vir die 51ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) ingesluit, wat verlede jaar ook vir die span in aksie was.

Die viertal is die vleuels Jonathan April en Nazo Nkala, agtsteman Francois Stemmet en plaasvervanger-haker Nick Fortuin.

April en Nkala is twee van die gevaarlikste spelers op die aanval in Suid-Afrika. Die Perses behoort dus die bal hope lug te gee om die duo soveel as moontlik in besit van die bal tydens die toernooi te plaas.

Die keurders het besluit om die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se lostrio as kombinasie in die span te behou. Stemmet sal saam met Henry Searle en JP Kalp die span se losvoorspelers wees. Interresant is dat Stemmet vanjaar op buitesenter vir Rooiskool uitdraf.

Hentie Cilliers van Virginia het soos gewoontlik die meeste verteenwoordigers in die span met agt spelers wat die voorlopige span gemaak het.

Die Perses sal op 14 Junie op die Vrystaat se jaarlikse Bondedag teen Griekwas kragte meet, terwyl die jaarlikse kragmeting teen Vrystaat die volgende Saterdag gespeel sal word.

Bothaville se vaskopstut, Armand van Wyk kry die kans om sy krag teen van die voorste spelers te meet. Van Wyk is die anker van Bothaville se skrum wat vanjaar alle teenstand in die afdeling van die spel verwoes het. Die vorige voorryman van Bothaville wat vir die Perses op die Cravenweek uitgedraf het was die voormalige Springbok-stut, Wessel Roux. Hy was lid van die Noord-Vrystaatse span wat aan die toernooi in 1993 deelgeneem het.

Die Griffons pak Grens op die tweede dag van vanjaar se toernooi op die velde van HTS Middelburg in sy eerste wedstryd van die week.

Die Griffons is die suksesvolste span op die Cravenweek die afgelope drie jaar. Die Noord- Vrystaters het slegs een nederlaag in sy laaste nege wedstryde op die toernooi gely. Dit was in 2012 teen die Pumas (24-48) in Port Elizabeth.

Die span word weer vanjaar deur Kassie Kasselman (Wessel Maree) en Roean Bezuidenhout (Welkom-Gimnasium) gebrei.

Die span is:

Ezrick Alexander (Hentie Cilliers), Nazo Nkala (Welkom-Gimnasium), Siyamamkela Ngxesha (Hentie Cilliers), Boeta Vermaak (Voortrekker), Jonathan April, Luan James, Jaywinn Juries (almal Hentie Cilliers), Francois Stemmet, Henry Searle, JP Kalp, Erik Knoetze (almal AHS Kroonstad), Wesley McMaster (Welkom-Gimnasium), Armand van Wyk (Bothaville), Toffie van Zyl (Voortrekker), Fanie Vermaak (Welkom-Gimnasium). Plaasvervangers: Nick Fortuin (Welkom-Gimnasium), Neo Mohapi (Hentie Cilliers), Niel Janse van Rensburg (Voortrekker), Nathan Kemp, Jason Olivier (albei Hentie Cilliers), Kobus Kleyn (AHS Kroonstad), Tokkie van Zyl (Voortrekker).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.