Griekwas vir die eerste keer sedert 2001 onoorwonne
Dit het 16 jaar geneem waar uiteindelik kan Griekwas weer met ‘n onoorwonne span op die Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole spog.
Die Poubloues het in sy stryd op die laaste dag van die toernooi op St Stithians College se Baytopp-veld in Johannesburg met 57-34 teen die Limpopo Blou Bulle geseëvier om hulle toernooi onoorwonne af te sluit.
Griekwas het 159 punte in sy drie wedstryde op vanjaar se toernooi aangeteken. ‘n Volle 59 van hierdie punte is deur sy losskakel, Charles Williams, opgestapel. Dit is die meeste punte wat ‘n speler van Griekwas nog op die toernooi aangeteken het. Die vorige rekord het aan Johandre van der Walt behoort wat in 2008 met 50 punte die algehele voorste puntemaker op die toernooi in Pretoria was.
Griekwas se kaptein en agtsteman, Edrich Brand, is welverdiend vir sy skitterende vertoning as die Speler van die Wedstryd aangewys. Die haker, Rory Leijdekkers, was ook weer woelig en het drie van sy span se drieë afgerond.
Griekwas kon laas in 2001 daarin slaag om die Cravenweek onoorwonne af te sluit. Die span het onder andere Ronnie Cooke (Kings, Cheetahs) en Franco van der Merwe (Springbokke, Leeus) in sy geledere gehad. Die span het ook staatmakers soos Jaco Koch, Xavier Malgas en Ampie Lourens. Koch rig deesdae Affies in Pretoria se eerstespan af.
Limpopo se buitesenter, Vincent Roos, het ook ‘n driekuns aan drieë behaal.
OP-platteland het Grens-platteland soos verwag afgeslag. Die wenspan het met 70-0 as oorwinnaars van die veld gestap. Die haker, Dean Jenkins, het drie van sy span se 12 drieë gedruk.
Puntemakers:
Griekwaland-Wes 57 (33) – Drieë: Rory Leijdekkers (3), Timothy Harding (2), Jeffrey Muzaza, Charles Williams, Ramon Sauls, Rowie Malgas. Doelskoppe: Williams (6). Limpopo Blou Bulle 34 (10) – Drieë: Vincent Roos (3), Noko Malatji, Reece Wynne, Philip Apea-Adu. Doelskoppe: Jan-Karel Limbach, Wynne.
OP-platteland 70 (39) – Drieë: Dean Jenkins (3), Matt Robertson (2), Chulumankco Mngxaso, Jaco Vorster, Jay-Jay Human, Ralph Koster, Sive Nako, Vivan Kapp, Jack Allanson. Doelskoppe: Nevaldo Fleurs (4), Koster. Grens-platteland 0.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




