SuperSport Schools Plus

Griekwas net-net bobaas teen Griekwa-platteland

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-06-03

GRIEKWALAND-WES se o.18-rugbyspan moes sweet om sy eweknie van Griekwas-Platteland in hul stryd op Diamantveld se veld met 17-14 tot oorgawe te dwing.

Die wenspan het rustyd met net 10-7 voorgeloop. Albei die spanne word vandag vir die 50ste Cravenweektoernooi vir hoërskole in ­Polokwane gefinaliseer.

Vir die Poubloues het die skrumskakel, GM Bruwer, die vuur verskaf. Hy is tydens die wedstryd vervang en het later tot die spel teruggekeer waarna sy span skielik weer na ’n veel beter eenheid gelyk het. Sy onvoorspelbaarheid rondom die losskrums en skrums het die Plattelanders se flanke ook besig gehou.

Die heelagter, Ryan de Wee, was uitmuntend. Sy aanvalle vanuit die laaste vesting was van hoë gehalte. Hy het homself met sy teenaanvalle ’n hele paar keer uit die moeilikheid gehardloop. Die flank BJ Muller het die veld vol gespeel en die besoekers probleme by die afbreekpunte besorg.

Die slot, Bradley Leijdekkers, het ook nie ’n voet verkeerd gesit nie. Hy het veral in die vastelos met goeie lopies uitgeblink.

Vir die verloorspan het sy agtsteman, Jasper Wiese, en flank Junior Burger uitgemunt.

Voortrekker het op sy tuisveld op Bethlehem in ’n klipharde stryd teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 28-21 as oorwinnaar uit die stryd getree. Die Trekkers se agterlyn was die groot verskil tussen die twee spanne. Veral die senterpaar, Junior Smit en Wian van der Watt, was puik. Smit het twee keer gaan druk.

Die Trekkers is onoorwonne in die liga en boaan die puntelys.

Voortrekker het vroeg met 10-0 voorgeloop en ook twee drieë gaan druk, terwyl die Rooiskool se heelagter, Jeandré Uys, in die koelkas was. Die Rooiskool se voorspelers, met die flank Gerrit Otto en slot Francois Stemmet aan die voorpunt, het telkens teruggeveg en hul span in die kragmeting gehou. Die flank Henry Searle het ook meer as sy deel gedoen.

Die speler van die wedstryd was ongetwyfeld Trekkers se Cravenweek-flank, André “Smurf” Janse van Vuuren.

Wilgerivier het sy ligaverpligtinge onoorwonne in die Oos-Vrystaat afgesluit toe hy Reitz met 52-0 pak gegee het. Die span se flank Gerrie Muller het ’n driekuns aan drieë behaal.

Paul Erasmus van Senekal het Vrede met 12-7 in hul kragmeting in dié liga geklop.

St. Andrew van Bloemfontein het St. David-kollege met 26-20 uitoorlê.

Bultfontein het Theunissen in die Sandveld-liga met 53-14 platgevee.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.