Grey vandag vir eerste keer sedert 1980 teen Diamonds
Dit is 35 jaar sedert Grey-kollege en Diamantveld mekaar laas op die rugbyveld gepak het, maar vandag kan die span van Kiumberley ‘n veel groter opdraende stryd as destyds in 1980 te wagte wees.
“Dit is ‘n groot geleentheid vir ons en elke seun wat rugby in Suid-Afrika speel wil teen Grey-kollege speel,” het Jean Stemmet, afrigter van Diamonds, gesê.
Grey het dié kragmeting in 1980 met 13-4 gewen. Die span van die Rosestad het die wyle Bok-vleuel Jaco Reinach, SA Skole-haker Joepie van der Merwe en SA Skole-kaptein Jurie Erwee in sy geledere gehad. Die tweestryd tussen Van der Merwe en Diamonds se Wessel Lightfoot was die hoogtepunt van die kragmeting destyds.
Van der Merwe het in 1979 en 1980 in die middel van die nasionale skolespan se skrum gesak, terwyl Lightfoot in 1981 die SA Skole-span se haker was. Interresant is dié feit dat Lightfoot se broer, Eddie, vir HTS Kimberley in 1979 tot ‘n sege van 11-9 oor Grey-kollege aangevoer het. Wessel Lightfoot het Diamonds se enigste drie gedruk, maar hy sê hy het tweede in die skrum teen Van der Merwe gekom.
Grey het slegs twee spelers in sy geledere wat verlede jaar die Vrystaat op die Cravenweek in Middelburg (Mpumalanga) verteenwoordig het. Hulle is die heelagter, Sentle Lehoko en die Suid-Afrikaanse Skole-stut, IG Prinsloo.
Die span behoort egter sonder veel haakplekke sy seisoen met ‘n stewige sege oor Diamantveld af te skop. Daar bestaan twyfel of die tuisspan se losskakel, Gerco Nortjé, betyds van sy besering vir die kragmeting sal herstel. Hy was verlede jaar op die Cravenweek vir die Poubloues in aksie.
Landboudal van Jacobsdal sal op Diamonds se Sportdag in die vernaamste voorwedstryd teen die Cherries van Grey kragte meet. Die tweestryd van die heelagters tussen Ezrick Alexander (Welkom-Gimnasium) en Benna Nieuwoudt (Hoërskool Upington) in hulle spanne se wedstryd beloof om een van die hoogtepunte van die dag te wees. Duineveld kom teen ‘n Grey Uitnodiging-span te staan.
Die bepalings:
13:20: Duineveld t. Grey Uitnodiging; 14:25: Hoërskool Upington t. Welkom-Gimnasium; 15:30: Landboudal t. Cherries; 16:45: Diamantveld t. Grey-kollege.




