SuperSport Schools Plus

Grey tem Boishaai

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-26

Die span wat Grey-kollege vanjaar ore wil aansit, sal eers ’n plan moet beraam om Suid-Afrika se beste rugbyskool se verdediging te uitoorlê.

Die span van Bloemfontein het gister met die Hoër Jongenskool Paarl (15-10) afgereken – met sy verdediging soos vroeër vanjaar teen Paarl Gimnasium (15-14) – as die vernaamste rede vir die sege.

Monument se vleuel Armand Grobler het met ’n driekuns geskitter en sy span gister gehelp om sy aanslag in vanjaar se Beeldtrofee met ’n oorwinning van 32-19 oor Florida af te skop. Hy het met sy een drie oor die hele lengte van die veld genael nadat sy span omgekeerde besit by sy doellyn bewerkstellig het.

Die span se slot Rhyno Herbst het een van sy beste vertonings in ’n lang tyd vir die Wit Bulle opgedis.

Grey het met sy sege die span van die Paarl se onoorwonne status in Suid-Afrika beëindig. Die tuisspan het voor dié nederlaag slegs teen Hamilton Boys’ High van Nieu-Seeland (11-15) in die eindstryd van die jaarlikse internasionale toernooi van Sanix in Japan verloor.

Paul Roos Gimnasium het op sy tuisveld ’n agterstand van 7-14 met die omdraaislag teen Rondebosch Boys’ High uitgewis om met 31-21 as oorwinnaars van die veld te stap. Die span se haastige vleuel Nico Leonard het ’n driekuns aan drieë behaal.

Die twee spanne wat waarskynlik sake later vanjaar in die eindstryd van die Vrystaatse A1-liga gaan uitspook, Louis Botha en Jim Fouché, was in ’n rillerstryd van 89 punte gewikkel. Louis Botha het die wedstryd met 57-32 gewen en sodoende ’n belangrike sielkundige voorsprong oor JF opgebou.

Daar was landwyd verskeie wedstryde waar albei spanne besluit het om met die bal te hardloop en verdediging moes tweede viool speel. St. Benedict-kollege het St. Stithian-kollege met 67-35 verslaan, terwyl die wedstryd tussen Brandwag van Uitenhage en Hoërskool Punt (66-41) ook ’n honderdtal behaal het. Die span van Uitenhage het as oorwinnaars van die veld gestap.

Centurion het amper daarin geslaag om die eerste keer sedert 1975 vir Affies te troef. Affies het die wedstryd tussen die twee spanne naelskraap met 21-20 gewen.

HTS Middelburg se heelagter Barend Smit het sy skitterende spelpeil teen die Hoërskool Nelspruit voortgesit. Smit het 23 van sy span se punte in die sege van 33-23 aangeteken.

Oakdale Landbou het met ’n naelskraapse sege van 23-22 oor Outeniqua waarskynlik die status as beste span in die Suidwestelike Distrikte gekry.

Garsfontein se vleuel Shakeel Abrahams het self ’n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 41-29 oor Menlopark behaal.

In die Noord-Vrystaat het Hentie Cilliers en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met oorwinnings oor onderskeidelik Witteberg (38-29) en Goudveld-Hoërskool (25-18) hulle kanse ’n hupstoot gegee om die uitspeelrondes te haal.

Voortrekker van Bethlehem het met ’n weghol-oorwinning van 71-3 oor die Hoërskool Kroonstad sy onoorwonne status in die Griffons-liga behou.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.