Grey sweet, maar Vrystaat het sy eerste titel in Shimla-liga
Grey-kollege van Bloemfontein se eerstespan het seker gemaak dat die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga se trofee vir die eerste keer ooit in die Rosestad staanplek kry. Maklik was dit egter nie. Grey het naelskraaps met 43-42 oor Welkom Gimnasium in die eindstryd op Shimlapark in Bloemfontein koning gekraai.
Grey se SA Skole-skrumskakel, Rewan Kruger, het met ongeveer vyf minute se speeltyd oor die wendrie gaan druk. Gimmies het vir ’n opwindende eindstryd gesorg deur die bal hope lug te gee. Dit was veral die span se heelagter, Andrew Kota, agtsteman Gift Dlamini, senter Lubabalo Mtyeshi en SA Skole-skrumskakel, Richman Gora, wat deurgans Grey se verdediging op die proef gestel het.
Die Leeus van die Hoërskool Kalahari van Kuruman het St. Andrew van Bloemfontein met 26-18 in die eindstryd van die Irawa-liga op Shimlapark getroef. Dit was ’n wedstryd van twee helfte waarin Saints in die eerste helfte ’n gerieflike voorsprong van 18-0 opgebou het.
Die Leeus moes ’n harde spanpraatjie van hul afrigter, Andrew Brundyn, tydens rustyd gekry het. Die span het 26 punte in die tweede helfte aangeteken sonder om ’n enkele punt af te staan.
Kalahari se flank Bryan Whitehead het met sy drie in die tweede helfte sy span vir die eerste keer laat voorloop. Hy is vir sy vertoning in die wedstryd ook as Speler van die Wedstryd aangewys.
Sand du Plessis is as kampioen van die Colt-liga van die Kovsiestreek-kompetisie gekroon nah y die Hoërskool Retief van Kestell met 38-24 geklop het. Sannies het rustyd ’n skrale voorsprong van 15-12 geniet. Sy kaptein en stut, Jean-Jacques Marais, was met sy vertoning aan die spits van die span se oorwinning.
SACS het Wynberg Boys’ High met 31-20 in hul kragmeting geklop. SACS is die oudste skool in Suid-Afrika met Wynberg wat vanjaar met sy 175ste bestaansjaar die tweede oudste skool in die land is.
Rondebosch Boys’ High het vir Bishops met 30-26 in hul jaarlikse ENB Classic Clash verslaan.
Die Brandwag van Uitenhage het HTS Drostdy met 19-10 in Stellenbosch tydens die Maties se rugbydag geklop.




