SuperSport Schools Plus

Grey PE klop Grey-kollege eerste keer sedert 2004

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-04

Die eerste rugbyspan van Grey-kollege het Saterdag in Port Elizabeth vir die eerste keer sedert 2004 teen sy naamgenoot van die Baai sy rieme styfgeloop.

Grey PE was met 27-20 baas en was op die datg sonder twyfel die beste span.

Dit was ook Grey se eerste nederlaag van die seisoen. Geen van die voorste 20 spanne in die land kan vanjaar met ‘n onoorwonne rekord spog nie. 

Grey se heelagter, Henry Immelman, het sy skopskoen by die huis vergeet, maar die skuld kan nie voor sy deur gelê word nie.

Die tuisspan met sy flank en kaptein, Johan van Niekerk, aan die spits het voorlangs by die afbreekpunte vir die span van die Rosestad hoofbrekens besorg. Sy flankmaat, Junior Pokomela, het ’n paar harde duikslae uitgevoer en ook meters ver veld met die bal in die hand gewen.

Die span van Bloemfontein het in die skrums die oorhand gehad.

) Immelman het vroeër in die week ’n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 64-12 oor Fichardtpark behaal. Grey het teen rustyd reeds ’n voorsprong van 45-12 opgebou.

Die Cherries het Jim Fouché met 25-13 getroef. JF was met die omdraaislag met 10-8 voor.

) Hoërskool Fichardtpark het ’n oortuigende sege van 66-10 Saterdag oor Aliwal-Noord behaal.

Die span se senterpaar, Emile Cloete en Dewalt Coetzee, het albei twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die vaskopstut, Pieter Coetzee, het ook dubbelle driedruk-plesier ervaar.

) Die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg is die enigste onoorwonne span oor in die Vrystaatse B1-liga.

Die span het Hoërskool Koffiefontein se onoorwonne status in die liga met ’n sege van 24-5 op Martie du Plessis se veld in Bloemfontein beëindig. Reddersburg se puntemasjien, Danie Muller, het nog 14 punte tot sy seisoen se totaal gevoeg.

) Landboudal van Jacobsdal het op sy tuisveld, Landboupark, vir Sand du Plessis met 27-12 getroef. Lanties het in die skrums die oorhand gehad, maar ’n sterk wind het ’n groot invloed op die kragmeting gehad.

Die span se slot Teubes Brits en heelagter André Cornelissen het blink vertonings gelewer.

Puntemakers:

Grey-kollege 20 (10) – Drieë: Julian Jordaan, Alex Jonker, Henry Slabbert. Doelskop: Henry Immelman. Strafdoel: Immelman. Grey PE 27 (20).

Grey-kollege 64 (45) – Drieë: Henry Immelman (3), Glenn Erickson (2), Sentle Lehoko, Werner Roberts, Milan du Toit, Callie Janse van Vuuren, Julian Jordaan. Doelskoppe: Tokkie Kasselman (7). Fichardtpark 12 (12) – Strafdoele: Stefan Klopper (3). Skepdoel: Klopper.

Cherries 25 (8) – Drieë: Lourens Schreuder, Francois Aggenbag, JD Steyn. Doelskoppe: Christiaan Troskie (2). Strafdoele: Troskie (2). Jim Fouché 13 (10) – Drie: Ruan Wasserman. Doelskop: Tiaan Schutte. Strafdoele: Schutte (2).

Fichardtpark 66 (31) – Drieë: Emile Cloete (2), Dewalt Coetzee (2), Riaan Coetzee (2), Jacques van Heerden, Francois van Rooyen, Wieghardt Hattingh, Juan Curlewis. Doelskoppe: Stefan Klopper (8). Aliwal-Noord 10 (5).

Hendrik Potgieter 24 – Drieë: Danie Muller, Lukas Muller, William Kasselman. Doelskoppe: Danie Muller (3). Strafdoel: Muller. Hoërskool Koffiefontein 5 – Drie: Ulrich Vogel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.