SuperSport Schools Plus

Grey maak geskiedenis teen Affies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-07

NewsG GreyCollegeDie aanduidings is daar dat 2016 se rugbyseisoen ’n Greyt jaar sal wees.

Grey-kollege van Bloemfontein het die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria hier met 53-29 in hulle jaarlikse ENB Classic Clash verslaan.

Dit was veral Grey se senterpaar, Rikus Pretorius en Janco van Heyningen, wat heeltemal te veel vrae aan Affies se verdediging gevra het. Die span van die Rosestad het vroeg in die wedstryd sy losskakel, Christopher Schreuder, weens ’n besering verloor, maar sy plaasvervanger, Jaco Wessels, het die veld aan die brand gespeel.

Affies se eerste rugbyspan het voor gister nog nooit in sy geskiedenis 50 punte in ’n wedstryd afgestaan nie. Affies tel onder die voorste skolespanne in Suid-Afrika vanjaar wat Grey se sege nog meer indrukwekkend maak.

Die vorige hoogste telling teen Affies was ook deur Grey opgestel toe hy in 2007 onder die leiding van Robert Ebersohn met 47-10 in Bloemfontein baas was.

Affies is vroeg in die wedstryd ook ’n slag toegedien toe sy flank Regardt du Plessis die veld weens ’n besering moes verlaat. In sy afwesigheid het Grey die botoon by die afbreekpunte gevoer.

Monument van Krugersdorp is vir die eerste keer sedert 2010 as kampioen van die Tuks-reeks gekroon. Monnas het die Hoërskool Nelspruit se Rhinos met 25-17 in die eindstryd in die LC de Villiers-stadion in Pretoria verslaan.

Monnas was al twee keer vantevore in 2009 en 2010 as kampioen gekroon. Dit was egter sy ervare breier, Hans Coetzee, se eerste titel as kampioen in die reeks. Oupa van der Merwe en Wynand Moolman was onderskeidelik in 2009 en 2010 die afrigters toe die Wit Bulle die kroon gedra het.

Monnas se twee slotte, Christopher Havenga en Ruan Vermaak, het ’n beduidende rol in die sege gespeel. Agterlangs het die senter Bakkies Potgieter uitstekende werk vir die wenspan verrig.

Die Rhinos se senterpaar, Riaz Adebayo en Marnus Kruger, het Monnas probleme in die middelveld besorg. Voorlangs was die haker, Gerald van Eeden, die verloorspan se beste speler.

EG Jansen kon nou wel nie vanjaar sy titel as kampioen van die Tuks-reeks behou nie, maar het danksy ’n strafdoel in die doodsnikke deur sy skrumskakel, Ginter Smuts, met 39-36 oor Garsfontein in die uitspeelwedstryd vir die derde posisie geseëvier.

Jansies se losskakel, Ruben Beytell, het met twee drieë in die wedstryd sy totaal vir die seisoen tot ’n ongelooflike 18 drieë in 11 wedstryde opgestoot. Garsies se skrumskakel, Shaun Williams, het sy span met twee drieë in die tweede helfte in die wedstryd gehou.

Die Brandwag van Uitenhage het sy oorheersing van sy jaarlikse Classic Clash teen HTS Daniël Pienaar met ’n sege van 17-12 voortgesit. Brandwag het sedert 2008 nog net een keer in 2012 (23-28) teen HTS Daniël Pienaar die knie gebuig.

Brandwag se senter Henco Pieterse was sy span se uitstaande speler.

In nog ’n Classic Clash was HTS Drostdy in ’n klipharde kragmeting met 13-8 oor Worcester Gimnasium baas.
Potchefstroom Gimnasium het waarskynlik die grootste verrassing van die dag gelewer deur Lichtenburg op sy agterplaas met 31-30 te troef. Lichtenburg is onlangs as kampioen van die Pukke Prestige-reeks gekroon.

Paarl Gimnasium was op sy stukke teen Wynberg Boys’ High en het ’n wegholsege van 71-11 behaal. Boland Landbou het ook nie veel probleme ondervind om Rondebosch Boys’ High met 48-15 kaf te draf nie.

Al die uitslae: 

Tuks-reeks

Monument 25, Hoërskool Nelspruit 17; EG Jansen 39, Garsfontein 36; HTS Middelburg 25, Hoërskool Rustenburg 19; Eldoraigne 17, Kempton Park 10; Menlopark 47, Hoërskool Klerksdorp 12; Hoërskool Pietersburg 54, Transvalia 12; Centurion 29, Florida 22.

Blou Bulle

Zwartkop 26, Wonderboom 21; HTS John Vorster 19, Montana 18; Oos-Moot 35, Overkruin 14; Hoërskool Tuine 54, HTS Tuine 0; Midstream College 40, Pretoria-Noord 27; Pretoria THS 17, Uitsig 0; Curro Hazeldean 60, Akasia 26; Waterkloof 32, Noordheuwel 25.

Leeus

Jeppe Boys’ High 45, Westville Boys’ High 14; Helpmekaar 44, Ben Vorster 25; Randburg 38, Dinamika 9; Hoërskool Alberton 17, Linden 14; Fochville 48, Carel de Wet 7; Maragon 48, Curro Aurora 0; St. Benedict’s College 34, St. Alban’s College 33; President 27, Carletonville 15; St. John’s College 23, Pretoria Boys’ High 18.

Limpopo

Ben Viljoen 21, Ellisras 0; Frikkie Meyer 28, Hans Strijdom 17; Frans du Toit 43, Warmbad 20.

Luiperds

Potchefstroom Gimnasium 31, Lichtenburg 30; Potchefstroom Volkskool 15, Wesvalia 10; Vryburg 47, Schoonspruit 13; Brits 63, Motlosana 22; Zeerust 54, Wolmaransstad 3; Schweizer-Reneke 23, Grenswag 7.

Pumas

Piet Retief 22, Ermelo 19; Bergvlam 31, Generaal Hertzog 14; Penryn College 62, Oosterland 5; Standerton 20, Volksrust 5; Lydenburg 35, Rob Ferreira 16; Secunda 10, HTS Witbank 10; Curro Nelspruit 67, Groblersdal 0; Kriel 43, Witbank High 19; Barberton 17, Sybrand van Niekerk 15.

Valke

Transvalia 22, Vereeniging Gimnasium 11; Heidelberg Volkskool 24, Oosterlig 10; Voortrekker (Boksburg) 29, HTS Springs 3; Brandwag (Benoni) 14, Stoffberg 12; Dr. Malan 36, Hans Moore 17; Benoni High 31, Birchleigh 17.

Vrystaat/Griekwas

Grey-kollege 53, Affies 29; Voortrekker 28, Hentie Cilliers 24; Witteberg 73, HTS Sasolburg 14; Welkom Gimnasium 33, AHS Kroonstad 12; HTS Welkom 56, Hoërskool Kroonstad 27; Goudveld-Hoërskool 41, Wilgerivier 17; Sand du Plessis 52, Tsoseletso 0; Brandfort 46, Sehunelo 19; Sandveld 19, Theunissen 17; Hoopstad 48, Welkom High 12; Hendrik Potgieter 31, Zastron 0; Wessel Maree 19, Riebeeckstad 10; Bothaville 34, Hennenman 33; Reitz 8, Ficksburg 5.

KwaZulu-Natal/Oos-Kaap

Brandwag (Uitenhage) 17, HTS Daniël Pienaar 12; Marlow Landbou 8, Jim Fouché 7; Hilton College 10, Michaelhouse 8; Maritzburg College 32, King Edward VII 32; Itembelihle 15, Ndzondelelo 11; Durban High School 47, Voortrekker (Pietermaritzburg) 21; Nico Malan 12, Despatch 8; Dale College 53, De Vos Malan 0; St. Andrew’s College 23, Graeme College 7; Kingswood College 36, Union 17.

Wes-Kaap

Paarl Gimnasium 71, Wynberg Boys’ High 11; Boland Landbou 48, Rondebosch Boys’ High 15; Paul Roos Gimnasium 34, Stellenberg 8; SACS 38, Bishops 19; Brackenfell 27, Hoërskool Windhoek 19; Hermanus 21, Parel Vallei 7; HTS Drostdy 13, Worcester Gimnasium 8; President 29, Edgemead 10; DF Malan 43, Monumentpark 21; Durbanville 26, Hugenote (Wellington) 26; Hoërskool Stellenbosch 14, Hottentots-Holland 10; Tygerberg 21, Primrose-klub 3; Swartland 23, De Kuilen 0; Hoërskool Bellville 26, Strand 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.