Grey lewer nie net Bokke
Suid-Afrikaanse rugby se voorste fabriek vir Springbokke, Grey-kollege in Bloemfontein, sal ná Dinsdag kan spog met twee oudleerlinge wat vir Portugal se nasionale rugbyspan uitgedraf het.
Dié skool se losskakel en senter van verlede jaar, Mike Andrade, is in Portugal se span vir die Nasiesbeker-toernooi in Hongkong ingesluit.
Die 19-jarige Andrade, wat die jongste speler in die groep is, sal Dinsdag sy buiging vir Portugal teen Hongkong maak.
“Die afrigter het vir die eerste wedstryd teen Rusland die ervare ouens in die groep speelkans gegee. Ek sal Dinsdag eers my kans kry,” het Andrade gesê.
As Andrade teen Hongkong indruk maak, sal hy waarskynlik ook in sy span se laaste wedstryd van die toernooi teen Zimbabwe sy staal kan toon.
Die toernooi is ’n geleentheid vir spanne wat nie vanjaar Wêreldbeker-rugby gespeel het nie om internasionaal mee te ding.
Die vaskopstut Nelio de Sa wat in 1998 en 1999 drie toetse vir Portugal gespeel het, was die eerste oudleerling van Grey wat sy buiging vir dié land gemaak het.
De Sa het ook in een wedstryd vir die Vrystaat-Cheetahs gespeel nadat hy van die bank af opgestuur is.
De Sa het in 1993 die eerste speler geword wat uit die geledere van die Cherries, Grey se tweede span, vir die Vrystaatse Cravenweek-span gekies is.
Mario Vieira, tans losskakel van Grey se eerste span, is volgende jaar hoofseun. Hy is ook van Portugese afkoms en al drie sy broers – Miguel, Sergio en Ayrton – het in hul skoolloopbane vir Hoërskool Bothaville se eerste span gespeel.
Miguel en Sergio was ook dié skool se hoofseuns en Ayrton was onderhoofseun.
“Ek het gevoel dit sal ’n groot eer wees en is kort daarna Lissabon toe om saam met die span te oefen,” het Andrade gesê.“Die president (van die Portugese Rugbyunie) het my so ’n paar maande gelede gekontak om te hoor of ek sou belangstel om vir Portugal te speel.
’n Dyspierbesering het Andrade vir die meeste van die seisoen langs die kantlyn gehou en hy kon nie juis sy stempel vir die Westelike Provinsie se o.19-span afdruk nie.
In Brandfort sal daar ook vreugde oor Andrade se prestasie wees. Hy het vir die Hoërskool Staatspresident Swart in dié dorp se eerste span gespeel voordat hy Grey toe is.
Hy het in sy o.16-jaar die Suid-Afrikaanse elite-groep gehaal.
Sy ouers, Gaby en Jorge, en sy twee broers, Jorgie en Paulie, besit ’n supermark in Brandfort.
Andrade sê sy mikpunt is om Portugal te help om vir die Wêreldbeker-toernooi van 2019 in Japan te kwalifiseer.
“My gesin het tot dusver die grootste impak op my loopbaan gehad. My twee broers het my altyd gedruk om beter te wees,” het Andrade gesê.
Verskeie ander oudleerlinge van Grey soos André Blom (VSA), Michael Horak (Engeland), Richardt Strauss (Ierland), Raoul Larson en Leneve Damons (albei Namibië) het al ander lande op die rugbyveld verteenwoordig.
Strauss, Larson en Damons was in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in aksie.




