SuperSport Schools Plus

Grey-kollege bo teen Louis Botha in fisieke stryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-04-14

GREY-KOLLEGE se eerste rugbyspan is behoorlik deur Louis Botha in die twee spanne se liga-wedstryd beproef. Grey het 44-27 as oorwinnaars van die veld gestap.

Louis Botha het veral in die tweede helfte met ‘n reuse fisieke aanslag vir Grey probleme besorg. Die span van Grey word egter nie verniet so hoog aangeslaan nie en het meeste van die druk verwerk en ook sy kanse vir drieë benut.

Boonop moes Grey vir 20 minute lank in die tweede helfte sonder een van sy stutte klaarkom. Die skeidsregter, Lourens van der Merwe het eers vir Ruben Terblanche koelkas toe gestuur en ook later vir Janu Botha ‘n geelkaart toegeken.

Grey se flank Henry Slabbert en agtsteman Jacques du Preez het goeie vertoning gelewer en nooit vir Louis Botha se fisieke spel ‘n tree terug gestaan nie.

Agterlangs was die senter Mike Andrade sy span se beste speler. Hy het ‘n hele paar keer die buitegaping in die middelveld geslaan en ook beter as verlede jaar se Cravenweek-senter van Louis Botha Ali Mgijima vertoon.

Louis Botha se skrumskakel Shirwin Cupido, flank Gopolang Molefe, slot Corné de Bruin en losskakel Ewan Adams was uitmuntend.

Grey se De Wet Bezuidenhout het ook goeie spel gelewer en dit behoort interresant te wees wat die span se afrigterskorps gaan maak as sy kaptein en agtsteman Alex Jonker van sy besering herstel het.

Jim Fouché het ‘n senutergende wipplank-stryd teen Fichardtpark naelskraaps 21-20 gewen danksy ‘n drie deur sy buitesenter, JP Steyn in die doodsnikke van die wedstryd. JF het rustyd 10-3 voorgeloop, maar kort na rustyd het Fichies se losskakel, Stefan Kloppers oorgeval vir ‘n drie om sake gelyk te trek.

Sy eweknie van JF, Tiaan Schutte het daarna ‘n strafdoel oorgeklits om aan sy span ‘n voorsprong van 13-10 te besorg. Kloppers het daarna met ‘n strafdoel van 50 meter af geslaag om sake gelyk te trek. Schutte het kort daarna weer sake gelyk gemaak met ‘n strafdoel.

Fichies se senter, Emile Cloete het met sowat tien minute se spel oor oorgedraf vir sy drie wat deur Klopper verdoel is en dit het geblyk of die koël daarmee deur die kerk is. JF het egter aanhou werk om die oorwinning te behaal.

Vir JF was sy flank Cornelius Botha, losskakel Tiaan Schutte, agtsteman JP van der Westhuizen en vleuel Thiardt Ingram staatmakers. Ingram het egter min geleenthede gehad.

Vir Fichies het Cloete, Kloppers en agtsteman Pieter Coetzee goed vertoon.

Die Cherries het Sentraal 50-17 die loef afgesteek. Met die omdraaislag was die telling 17-12 in die Cherries se guns en die Tralies was nog in die kragmeting.

Die wenspan se vleuel Glen Erickson en agtsteman Werner Robberts was uitstaande. Vir Tralies het sy slot SJ Wessels moedig prober.

St. Andrew het waarskynlik die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort sy grootste loesing nog toegedien. Dit was die eerste keer in Brandfort se geskiedenis dat sy wedstryd weens ‘n punteverskil van meer as 50 punte gestop is. Vir Saints het sy agterhoede gevaarlik gelyk met die bal in die hand. Die heelagter Kevin Pretorius, senter Max Mitchell, losskakel Carl Fitzpatrick, senter Sam Lin en stut Lyle Heilbron het goeie vertonings gelewer.

Puntemakers:

Grey-kollege 44 (27) – Drieë: Henry Slabbert (2), Mike Andrade, Julian Jordaan, Ruben Terblanche, Jacques du Preez, Charl Pretorius. Doelskoppe: Jordaan (2), Henry Immelman. Strafdoel: Immelman. Louis Botha 27 (7) – Drieë: Corné de Bruin, Ali Mgijima, Gopolang Molefe, Sheldon Meyer. Doelskoppe: Shirwin Cupido (2). Strafdoel: Cupido.

Jim Fouché 21 (10) – Drieë: Tjop Briedenhann, JP Steyn. Doelskop: Tiaan Schutte. Strafdoele: Schutte (3). Fichardtpark 20 (3) – Drieë: Stefan Kloppers, Emile Cloete. Doelskoppe: Kloppers (2). Strafdoele: Kloppers (2).

Cherries 50 (17) – Drieë: Albert Verwey (2), Glenn Erickson (2), PR Serfontein, Schalk Lombaard, Louwtjie Steenkamp, Tokkie Kasselman. Doelskoppe: Kasselman (3), Steenkamp (2). Sentraal 17 (12) – Drie: SJ Wessels. Strafdoele: DP de Lange (4).

President Steyn 42 (22) – Drieë: Leehane Ontong (3), Abraham Nkuku (2), Kobus van Tonder, Chi-Chi Chikwe, Ryno Nyce. Doelskop: Fanie Griesel. Zastron 17 (10) – Drieë: Stefan Nel (2). Doelskoppe: Nel (2). Strafdoel: Nel.

St. Andrew 57 (21) – Drieë: Carl Fitzpatrick (2), Max Mitchell (2), Kieran Hartley (2), Devon Ashby, Kevin Pretorius. Doelskoppe: Pretorius (7). Strafdoel: Pretorius. Brandfort 7 (0) – Drie: Deon Janse van Rensburg. Doelskop: Henco de Wet.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.